ameliastrydomskryf

Boeke van die Week April 15, 2012

My meisiekind, Maja, het my aangesteek met haar Boeke van die Week blog-inskrywing. Elke naweek hou sy nabetragting oor alles wat sy die week gelees het en soek sy prentjies van die voorblaaie om die post mooi te maak. Hierdie week kan ek die versoeking om dieselfde te doen, nou nie meer weerstaan nie. Dit lyk vir my soos goeie aansporing – miskien nie om meer te lees nie (ek lees waarskynlik reeds te veel en skryf te min!) – maar om ‘beter’ boeke te lees. Of ten minste om meer gebalanseerd te lees. Hopelik sal daar dan nie soveel weke verbygaan waarin ek net Engelse boeke of net Harlequin Medical’s of net Afrikaanse romanses lees nie …

Ons het oorspronklik die idee vir ‘n weeklikse boeke-blog op Charlaine Harris se webwerf gesien. Charlaine skryf boeke wat mens seker as paranormal chick lit kan bestempel. Haar smaak in leesstof is dikwels bietjie avontuurlustig vir my, maar ek geniet dit nietemin om elke nou en dan by haar blog in te loer.

Hier is my Boeke van die Week (Sondag 8 tot Sondag 15 April):

Picture Perfect deur Jodi Picoult

Ek was nog altyd bietjie van ‘n loskop – selfs wanneer dit by geld kom. Ek onthou ‘n paar geleenthede uit my tienerjare toe ek onverwags op ‘n vergete twintigrandnoot in ‘n baadjiesak of handsak afgekom het. Toe was dit genoeg om ‘n nuwe boek of plaat mee te koop – en dit was ‘n ekstra lekker verrassing omdat ek nie geweet het ek het dit nog nie!

Só het ek gevoel oor Picture Perfect. Kom ek verduidelik. Jy sien, my ma was ‘n hoarder. ‘n Opgaarder. Erg. So erg soos die mense wat mens op Oprah of Dr Phil sien. Sy het nooit iets weggegooi nie. En ongelukkig ook nooit ‘n professionele uitsmyter gekry om van haar gemors ontslae te raak nie. Ek moes dit doen nadat sy op 61 onverwags aan ‘n beroerte gesterf het. Só ‘n ervaring is nie iets wat mens sommer vergeet nie. Dit laat ‘n merk op jou. Vir jare het ek dus ‘n redelike streng beleid gehad oor boeke: Ek mag nuwes koop, maar nie sonder om terselfdertyd van dié wat ek reeds gelees het, ontslae te raak nie.

Hierdie beleid het my boekery in toom gehou, maar dit het gebackfire. Ek het nie rekening gehou met die feit dat kinders (vinnig) grootword en dan graag daardie selfde boeke as hul ma wil lees nie. Met die gevolg dat ek vir die laaste paar jaar agteruit boer. Ek moet dieselfde titels wat ek nuut gekoop en toe verkoop het, nou weer ten duurste uit tweedehandse winkels gaan terugkoop sodat my kids dit kan lees. My ma se motto spook by my: Moet dit liewers nie weggooi nie, mens weet nooit wanneer jy dit eendag nodig kry nie … Wie sou ooit kon raai dat daar waarheid in gesteek het?

Jodi Picoult is een van die groot liefdes wat ek en Maja deel. En ek weet sommer Tamika en Mignon gaan haar boeke net so geniet sodra hulle oud genoeg is. Elke keer as ek ‘n Jodi teen ‘n redelike prys in ‘n tweedehandse boekwinkel sien, koop ek dit vir my dogters. Hierdie week ek ‘n verrassing gekry wat nog lekkerder was as ‘n vergete twintigrandnoot.

Ek was seker dat ek al Jodi se boeke al gelees het. Ek is immers so opgewonde oor haar nuwe boeke dat ek dit nie net koop nie – ek pre-order dit sommer op Kindle. Stel jou dus my vreugde voor toe ek Picture Perfect vir my meisiekinders koop en besef dat ek die storie glad nie kan onthou nie. Nie omdat ek early onset dementia het nie, maar omdat ek dit op ‘n manier oorgeslaan het. Daar het ek toe al die tyd ‘n Jodi gekoop wat vir my splinternuut is, teen R32!

Ek het dit vreeslik geniet. Die storie handel oor ‘n vrou wat bo-op ‘n graf wakker word. Sy het harsingskudding van ‘n hou teen die kop en weet nie eens wat haar naam is nie. ‘n Paar dae later kom lê haar man beslag op haar. Sy naam is Alex Rivers en hy is Hollywood se blinkste ster. Hy is egter ook ‘n vroueslaner, iets wat Cassie eers later onthou.

Daar is verskeie onvleiende resensies oor hierdie boek op die Internet. Ek gee toe dat dit nie Jodi se diepste storie is nie. Ook nie haar mees wroegings-waardige etiese dilemma nie. Maar vir my was dit ‘n hengse treat. Loshande die beste R32 wat ek hierdie week spandeer het!

The Story Sisters deur Alice Hoffman                         

Waarskuwing: Nie vir Depressiewe Lesers Nie!

Hierdie een het ek gekoop omdat Jodi Picoult Hoffman as haar gunstelingouteur bestempel. Natuurlik het ek gehoop om iemand te kry wat net soos my geliefde Picoult skryf, maar ek het dit ongelukkig nie gekry nie. Miskien sou ek die boek meer geniet het as my verwagting nie so hoog was nie.

Dit is ‘n fassinerende storie wat mens bybly. Veral as jy van magiese realisme hou – en nie omgee vir ‘n donker verhaal nie. Dit handel oor die verhouding tussen drie susters en oor die besluite wat elkeen neem. Besluite wat die koers van hul lewens verander. Ek kan dit nie beter as die NYT opsom nie: ‘Little Women on mushrooms’.

Angels Fall deur Nora Roberts

Wat kan ek sê? Nora mag maar. Daar is ‘n goeie rede waarom daar miljoene der miljoene van haar boeke verkoop is. En haar spanningsromanses (romantic suspense) bly my gunsteling.

Reece Gilmour is die enigste oorlewende na ‘n gewapende roof in die Boston restaurant waar sy as chef gewerk het. Nou is sy ‘n emosionele wrak met PTSD, paniekversteurings en meer bagasie as wat enige lugredery nog ooit verloor het. Die boek begin waar sy met ‘n gekrokte Chevy by die prentjiemooi dorpie Angel’s Fist inry. (As jy Nora Roberts is, mag jy maar jou boek by die begin begin en hoef jy nie, soos die res van ons mere mortals, in media res te begin nie. Jy mag elke nou en dan jou POV verkeerd kry ook. Want jy skryf so flippen goed dat niemand sulke foutjies teen jou kan hou nie!)

Reece wil net wegvlug van die traumatiese herinneringe wat haar bloots ry. Ongelukkig het haar nagmerrie egter pas begin. Op ‘n staptog in die berge sien sy ‘n moord deur haar verkyker. En word sy, op haar beurt, gesien. Die lyk verdwyn en niemand behalwe Brody, misdaadskrywer en alpha male par excellence, glo haar nie. Is sy besig om die kluts heeltemal kwyt te raak, of is die vreemde gebeure alles deel van ‘n gevaarlike moordenaar se kat-en-muis speletjie? Hmm, great stuff!

Oop Kaarte deur Annemari Coetser (finalis in Sanlam/Tafelberg se Groot Romanwedstryd 2006)

Elke skrywer het sekere temas wat hom/haar opgewonde maak. Jy weet daardie onderwerpe waaroor jy tot drie-uur in die nag sal gesels? Die onderwerpe wat jou hart ‘n bietjie vinniger laat klop en jou asem in jou keel laat vashaak? Daardie is die onderwerpe, glo ek, waaroor jy moet skryf. Dit wys waar jou energie lê – waar jy jou beste werk gaan doen.

Poligamie is een van my hot topics. Ek ken twee vroue – uit uiteenlopende kulturele en godsdienstige agtergronde – wat binne poligame huwelike leef. Die verhoudingsdinamika fassineer my, asook die teenwoordigheid van en/of gebrek aan konflik. In my beperkte ervaring weerspieël dit dikwels ongelyke magsverhouding tussen mans en vroue. Kortom, it tickles me pink.

Stel jou dus voor hoe opgewonde ek was toe ek hoor dat Annemari – een van my gunsteling Afrikaanse skrywers – se debuutroman oor ‘n alternatief tot monogamie handel. Oor een threesome se eksperiment met ‘n ‘oop verhouding’, met poli-amorie.

Ek het Oop Kaarte in een sitting gelees. Dis intelligent, modern en boeiend. Dit gryp jou. Tog wou ek meer hê, het ek gewens die outeur wou dieper delf. Ek sou bitter graag die storie uit albei vrouens se oogpunte wou beleef. Ek sou meer van die konflik wou sien. Meer van die jaloesie. Ek was honger vir die klein jakkalsies, vir die alledaagse kompleksiteite van so ‘n aweregse verhouding. As daar ‘n skrywer is wat die moed, die vaardigheid, en die varsheid het om so ‘n kontroversiële tema aan te pak, is dit Annemari. Oop Kaarte is ‘n ongelooflike debuut. Ek hoop Annemari het nog baie ink in haar pen en dat sy nie uitgeskryf is oor eksperimente met die liefde nie.

Lees gerus Isak de Vries se interessante resensie oor Oop Kaarte hier: http://www.argief.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&news_id=28218&cause_id=1270