ameliastrydomskryf

Spesiaal vir Valentynsdag: Tien Afrikaanse Boeke wat my Hart Tjoklits Laat Klop Februarie 14, 2012

  1. Bottervisse in die Jêm deur Deon Meyer. Kan dit wragtig ‘n man wees – ‘n man wat spanningsverhalae skryf, boonop – wat ‘n vrou se hart so goed verstaan? Wat so romanties skryf? Pasop vir hierdie bundel kortverhale as jy werk het om te doen, dis nes ‘n boks Lindt-balle. Net nog één, dink jy elke keer, maar as jy jou oë uitvee het jy als verslind!
  2. Vier Seisoene Kind deur Wilna Adriaanse. Ek’t hierdie een gelees terwyl ek in die Karoo op my eie gaan skrywersretreat hou het. Die huisie waarin ek gebly het, was sonder elektrisiteit en Wilna het my kerse tot laatnag laat brand. En my toe nog langer laat rondrol oor die Johnny Depp lookalike met sy mondhoeke wat so ondertoe keep …
  3. Die Ooreenkoms deur Sophia Kapp. Ug, ek het myself belowe om net een van elke skrywer se boeke te lys, maar hoe kies mens tussen Sophia se wonderlike stories? Haar karakters word so regtig dat mens voel of jy hulle al jare ken.
  4. Om Ben Lief te Hê deur Madelie Human. Vir hierdie ene het ek lank gewag. Ek kon die ander twee stories in die trilogie in boekwinkels kry, maar Ben was uitverkoop. Stel jou my vreugde voor toe ek dit op Kalahari raakloop – in e-boek formaat. Net jammer die boek kan nou nie fisies sy plek langs sy ‘broers’ op my rak inneem nie. Hierdie reeks is keepers en word beslis nie uitgeleen of herverkoop uit my boekery nie!
  5. Die Verste Ster deur Bets Smith het my weer laat onthou hoe dit voel om jonk en verlief te wees. ‘n Boek van Bets is altyd ‘n lekkerte. Ek hou van haar sterk heldinne en die spanningselement wat sy soms in haar stories inbring.
  6. Toorliefde van Chanette Paul was presies wat die titel beloof het – magic. Die plek, die held, die heldin en haar werk – sommer als. Een van daardie boeke wat my bybly lank nadat ek dit terug op die boekrak geplaas het.
  7. Vonkpos vir die Hart deur Irma Joubert. ‘n Storie met diepte en ‘n held wat maar enige aand sy skoene onder my bed kan kom inskop, vuil kouse en al.
  8. Klein Klippie Ver Gooi deur Marilé Cloete het die allerheerlikste openingstoneel en het my geboei tot die laaste woord. Een van daai boeke wat mens vinnig wil klaarlees, want jy wil tog net seker maak die held en heldin gaan selfs in hierdie storie by mekaar uitkom, maar aan die ander kant wil jy ook nie hê dit moet opraak nie.
  9. Een Keer in ‘n Leeftyd deur Marijke Greef was vir my so mooi dat ek dit twee maal gelees het – die eerste keer gulsig, agter die storie aan, en die tweede keer stadig, sodat ek hierdie meesterstuk van uitgestelde begeerte kon waardeer. ‘n Pragtige verhaal waarin die seksuele spanning onlosmaaklik deel van die verhaal vorm.
  10. Oukei, ek het gesê net een boek per skrywer, maar ek kan regtig nie kies tussen Rykie Roux se Aarbeie vir Dokter Aliz en Die Dokter se Geheime Passie nie. Hierdie is die twee stories wat my geïnspireer het om romanses te skryf – en dan spesifiek ook mediese romanses. Dankie, Rykie!