ameliastrydomskryf

Vanaand in die Huis van die Storievrate April 19, 2012

Die Storievrate

Die Storievrate

Vanaand het ek drie bitter ongelukkige kinders. Nee, nie omdat hulle hul kamers moes reg pak nie (hoewel hulle dit ook behoort te doen). Ook nie omdat hulle skottelgoed moes was of aandete moes maak nie (hoewel hulle dit inderdaad gedoen het). Die rede vir hulle ontevredenheid, lê op my Kindle. Let wel, mý Kindle. Die enigste een in die huis (tot dusver, Maja spaar ook om vir haar een te koop).

Vandat die oudste, Carl-Daniël (nou 15), twee weke oud was, het ek probeer om elke aand vir hom voor te lees. Sommer gou was dit sy gunstelingtyd van die dag, nes ek verwag het. Hy het heeldag uitgesien na leestyd en nooit gekla omdat hy in die bed moes klim nie, want daar was altyd eers ‘n uur of wat se leestyd wat as versagting gedien het vir die straf van slaap.

Toe sy sussies, Maja, Tamika, en Mignon, en later sy boetie, Dominic bygekom het, het ons die tradisie voortgesit (hoewel dit al hoe meer uitdagend geword het om leesstof te kry wat in almal se smaak val). Gelukkig het ons ‘n koningsgrootte bed en ‘n paar leunstoele in die kamer. Nou baklei hulle darem net oor wie langs Marmie mag lê.

Die wonderlike stories wat ons gelees het, het die kinders se verbeeldings geprikkel en in hulle speletjies uiting gevind. Toe hulle kleiner was, het ek gespot dat die bure sou kon raai met watter boek ons besig is deur net na hul spelery buite te luister.

Wat ek egter nie verwag het nie, was dat storietyd sommer gou ook my gunsteling tyd van die dag geword het. Selfs al was die stories nie altyd age appropriate nie, het ek altyd iets uit ‘n goeie boek gekry. Iemand (ek kan nou nie onthou wie daardie iemand was nie) het geskryf dat ‘n goeie storie bevredigend is of jy nou nege of negentig jaar oud is. ‘n Goeie boek is soos ‘n ui, dit het verskillende lae en die leser kan daardie lae afskil soos hy/sy emosioneel en intellektueel daarvoor gereed word. Natuurlik was die samesyn met die kinders nog lekkerder as die stories. Bykans al ons mees betekenisvolle gesprekke het na aanleiding van boeke plaasgevind.

Maar hoekom is jou kinders vanaand vir jou kwaad, wonder jy seker. Wel, ons het almal griep gehad en vir die laaste twee weke was daar nie leestyd nie. To add insult to injury, was ek en die oudste drie besig met ‘n baie spannende boek toe die virus ons platgetrek het. Plague Year deur Stephanie Tolan. In die verhaal trek daar ‘n nuwe tienerseun, Bran (aka Fruitful Bran deur die boelies en class clowns), na ‘n klein dorpie op die Amerikaanse platteland. Bran is ‘n outsider, ‘n loner, en sommer gou word hy verskriklik gespot. Gelukkig maak die verteller, David, en sy weird vriendin, Molly, met hom vriende. Maar dan kom Bran se geheim op die lappe: Hy is die seun van ‘n berugte reeksmoordenaar. Massahisterie versprei soos ‘n plaag deur die dorpie en Bran word die teiken van geweld en vooroordeel.

Dis ‘n dêm lekker storie en dis elke aand ‘n gesukkel om die boek neer te sit sodat almal kan gaan slaap. Die kinders gee my nou al gratis refleksologie behandelings net dat ek moet aanhou lees. Vanaand het ons vir die eerste keer in twee weke weer ons boek op Kindle oopgemaak. Ons het twee hoofstukke gelees en het nou net 9% van die boek oor, volgens Sophia, my Kindle en die godin van wysheid in hierdie huis.

Ongelukkig is ons nou op die heel spannendste plek in die storie. Bran het op sy eie koers gekies na die gwarriegat (praat van TSTL, oftewel Too Stupid to Live!), en die skrywer het ‘n paar goedgeplaaste vooruitskouings geplant wat ons waarsku dat Bran waarskynlik ‘n ongelukkige einde gaan ontmoet. Al drie kinders het gesoebat en gesmeek dat ek verder moes lees, maar ek was onverbiddelik. Mens moet darem iets hê om na uit te sien. Suspense is goed vir julle, het ek hulle verseker. Toe dit vir hulle duidelik word dat ek hierdie keer regtig nie nog gaan lees nie, het hulle Plan B probeer. “Mamma, kan ek vanaand jou Kindle leen om vooruit te lees?”

Jy kan seker raai wat my antwoord was. Al drie gaan dus droëbek – en dikbek – slaap vanaand. (Terwyl Marmie met gevryfde voete gaan slaap, verwyt Carl-Daniël). Gelukkig is die twee kleintjies nie vir my heeltemal so kwaad nie, want hulle Little House on the Prairie boek – in Afrikaans vertaal, natuurlik – is nie op so ‘n spannende plek nie. Hulle is maar te bly dat Mamma se keel nie meer te seer is om te lees nie.

Ten spyte van die konflik wat hierdie leesgewoonte kan veroorsaak, sal ek steeds ten sterkste aanbeveel dat jy vir jou kinders lees. Dis die sekerste manier om lesers groot te maak, en jou voete gevryf te kry. Ek vermoed dat dit ook die manier is om skrywers te kweek. Ek weet my ma het vir my gelees (en dan gewoonlik op ‘n onmoontlike plek opgehou, sodat ek self verder moes gaan!) en ek is taamlik seker dat Maja se belangstelling in skryf ook uit hierdie lesery gebore is. Lees gerus The Read-Aloud Handbook deur Jim Trelease as jy nog nie oortuig is nie, of as jy idees soek oor wat om vir jou spruite te lees.

Hier is ‘n ONVOLLEDIGE lys van ons gunsteling voorlees-boeke in geen spesifieke volgorde nie:

  1. Die Harry Potterreeks deur J.K. Rowling

    Elke swart kraai dink haar eiers is die witste

    Elke swart kraai dink haar eiers is die witste

  2. Die Twilight reeks (vir tieners) deur Stephenie Meyer
  3. Meneer Popper se Pikkewyne deur Florence en Richard Atwater (vergeet die fliek, die boek is honderd maal snaakser)
  4. Droomoog Diepgrawer deur Leon de Villiers
  5. Sarah, Lank en Vaal deur Patricia MacLachlan
  6. Two Weeks with the Queen deur Morris Gleitzman (ek het met tye so hard gelag – en dan weer getjank – dat ek skaars hardop kon lees). Maar moenie hierdie boek vir jou kinders lees as jy homofobies is nie. ‘Queen’ het ‘n dubbele betekenis. As jy my hel toe wil verdoem omdat ek vir my kinders sulke boeke lees, kan jy dit gerus maar doen. Ek wil asseblief net nie daarvan hoor nie
  7. Bill’s New Frock deur Anne Fine. ‘n Skreeusnaakse storie oor ‘n seun wat oornag in ‘n meisie verander (iets wat ek Carl-Daniël jare al belowe NIE kan gebeur nie). Die gevolge is hilarious. Nie vir mense wat bekommerd is oor die gevare van unisex of die bevraagtekening van gender roles nie!
  8. Number the Stars deur Lois Lowry (nie vir jonger lesers nie, die boek handel oor die Holocaust)
  9. A Series of Unfortunate Events deur Lemony Snicket. Die eerste twee boeke in die reeks is in Afrikaans vertaal: Die Bose Begin en Die Reptielkamer. My kinders is mal oor die donker humor, al eindig die stories nie juis gelukkig nie.
  10. Die Laura-boeke, soos ons dit noem, of The Little House on the Prairie reeks deur Laura Ingalls Wilder. Dis die derde keer in my lewe dat ek hierdie reeks deurlees en ek is nog glad nie moeg daarvoor nie.
  11. Music of Dolphins deur Karen Hesse. Hierdie interessante, hartroerende storie handel oor ‘n meisie wat deur dolfyne grootgemaak is. Natuurlik moet mens jou ongeloof tydelik kan tersyde stel, want meeste van die gebeure is onmoontlik, maar dit gee die leser ‘n vars blik op ons samelewing.
  12. Liewe Heksie reeks deur Verna Vels.
  13. Pippi Langkous reeks deur Astrid Lindgren
  14. Die Leners reeks (in Engels The Borrowers) deur Mary Norton
  15. Die Leeu, die Heks en die Hangkas deur C.S. Lewis
  16. The Magic Treehouse reeks deur Mary Pope Osborne
  17. Skaapvark deur Dick King-Smith (in Engels Sheep Pig). Hierdie is die boek waarop die fliek, Babe, gebaseer is. Klaweraas deur dieselfde skrywer is ook die moeite werd.
  18. Charlotte se Web deur E.B. White, terwyl ons nou oor varke praat.
  19. Wolf Ja, Wolf Nee deur Elsabe Steenberg
  20. Stone Fox deur John R. Gardiner. Waarskuwing: nie ‘n gelukkige einde nie!
  21. Enigiets deur Roald Dahl, maar veral Die Groot Sagmoedige Reus (‘n smeklekker boek, soos die GSR sou sê!), Matilda en Marius se Merkwaardige Medisyne
  22. Mevrou Frisby en die Rotte van Nimh deur Robert C. O’Brien. Waarskuwing: nie ‘n gelukkige einde nie!
  23. Yolanda’s Genius deur Carol Fenner
  24. Josias-boeke deur Ann Cameron (In Engels The Stories Julian Tells ens)
  25. Die Rooihuid in die Kassie deur Lynne Reid Banks (in Engels The Indian in the Cupboard)