ameliastrydomskryf

‘n Geselsie met Petronel Louw, nuwe Romanza-skrywer Oktober 30, 2014

petronel louwPetronel, jy het onlangs die opwindende nuus gekry dat Lapa jou eerste romanse aanvaar het. Vertel ons bietjie die storie: het jy ʼn oproep of ʼn e-pos gekry? Hoe het jy gevoel? Wat het jy gedoen om die geleentheid te vier?

As debuutskrywer was my kennis oor die tegniese versorging van ʼn manuskrip ʼn groot probleem. My manuskrip is twee maal teruggestuur met die opdrag om dit tegnies op standaard te kry. Die tweede keer het die keurder my die Woensdag laat weet dat as ek die manuskrip ten volle versorg voor komende Maandag 12uur by Lapa kan hê, sal dit vir publikasie oorweeg word. Ek is die Woensdag daarna per e-pos laat weet dat hulle tevrede is. Ons gesin het die geleentheid gaan vier met ʼn lekker uiteet.

Wat is die titel van jou boek? Wanneer verskyn dit en waaroor gaan die storie?

“Jy is myne alleen.” Dit verskyn DV Februarie 2015 op die rake.

Die storie is sommer ʼn lekker ligte romantiese komedie met so klein bietjie drama en baie misverstande.

Die handel oor ʼn maatskaplike werker, Anien, wat na ʼn liefdesteleurstelling ʼn pos as terapeut by ʼn innerlike genesingsoord in die berge van Noordoos Vrystaat aanvaar. Die vonke spat onmiddellik tussen haar en die boer, Theo, wie se plaas aan die genesingsoord grens. Hulle kan egter nie die aantrekkingskrag tussen hulle nie misken nie. As dit net nie was dat Della van die buurplaas haar visier op Theo gehad het nie. Sy doen alles in haar vermoë om Theo se aandag op haar te vestig. Theo sê Della is soos ʼn kleinsus vir hom, maar wanneer sy haar vingers klap, spring hy… selfs op Anien en Theo se wittebrood.

Jy het ʼn interessante werk. Wat doen jy en hoe het jy jou ervaring in jou storie ingeweef?

Ek is ʼn maatskaplike werker in privaat praktyk wat in trauma terapie spesialiseer. Ek verstaan die emosionele proses waardeur mense gaan wat innerlik verwond is, dus gebruik ek my kennis om die karakters so realisties moontlik uit te bou, sonder om dit neerdrukkend te maak. Die speelse element bly vir my belangrik.

Waarom romanse? Is hierdie genre een van jou gunstelinge?

Wat is dan nou lekkerder as om te ontvlug met ʼn lekker liefdesverhaal? Ekself floreer op die lees van romanse, want uit die aard van my werk geniet ek ligte leesvermaak meer. Die genre is definitief my gunsteling, want die intrige van liefdesverhoudings bly vars en interessant. Ek beoog om later op romans met ʼn dieper plot te fokus.

Watter boek/e is op die oomblik op jou bedkassie?

Ek is altyd besig met iets wat waarde toevoeg aan my beroep. Tans lees ek Stephen Madigan se “Narrative Therapy” en die “Afrikaanse Skryfgids”, dan lees ek daarmee saam iets ligs op my Kindle. Op die oomblik is dit: “The matchmaking pact” van Carolyne Aarsen en net voor dit was dit jou romanse, “Ridder in ʼn wit jas”. Ek probeer Afrikaanse en Engelse fiksie afwissel.

Ons het mekaar by die ATKV se Lenteskool vir aspirant liefdesverhaalskrywers ontmoet. Hoe het jy die slypskool ervaar en wat het jy daar geleer?

Vir my is dit onontbeerlik om die ATKV se skryfskole by te woon. Om te skryf is nie net om te sit en skryf nie. Dit is baie tegnies, met ʼn magdom vereistes. Ek het ontsettend baie by die aanbieders geleer. Hulle plaas die essensie van die riglyne vir skryf binne konteks. Ons het ook prakties gedoen, wat ek baie geniet het. ʼn Belangrike les wat ek daar geleer het, is dat kritiek op jou skryfwerk die norm is, dit is ʼn leergeleentheid. Slaan ag op en waardeer elke stukkie kritiek.

Waaraan skryf jy tans?

Ek skryf tans aan twee stories en nog een lê in my agterkop. Een is nog ʼn romantiese komedie met so bietjie misterie en die ander een is ʼn historiese roman.

Sommige skrywers begin met karakters, ander met ʼn storie (plot). Ek het selfs al iemand hoor sê hy begin met die ruimte waarin ʼn storie afspeel. Watter deel van ʼn storie ontkiem eerste in jou kop?

My hoofkarakter maak gewoonlik eerste haar buiging. Die begin ontkiem eerste. Ek is nie ʼn plotter nie. My storie begin net en skryf homself van daar af. Ek dink aan die ruimte en ʼn vraagstuk waarmee hierdie heldin sukkel en ontwikkel dit soos wat ek die storie skryf. Ek ‘sien’ my karakters en die storie soos ʼn fliek.

Hoeveel beplanning doen jy voordat jy begin skryf? En navorsing?

Ek maak seker dat ek my hoofkarakters ken. Dus ontwikkel ek karakterkaarte en hou dit byderhand, sodat my karakters se haarkleur en persoonlikhede nie skielik verander deur die loop van die skryf van die storie nie. Ek doen beslis navorsing. Die beste manier vir my is om met ʼn persoon ʼn onderhoud te gaan voer wat in die beroep staan van my heldin. My volgende romanse handel oor ʼn forensiese ouditeur. Dit is vir my heerlik om ʼn regte forensiese ouditeur met vrae te peper. Vir navorsing oor ruimte het ek byvoorbeeld vir drie dae op ʼn skaapplaas gaan bly en die boer uitgevra. Ek kry ook inligting op die internet en boeke. My een storie hang nou juis, omdat ek nie klaar is met die navorsing nie.

Watter raad het jy vir diegene wat graag romanse wil skryf?

As jy die begeerte het om romanses te skryf en te publiseer woon eers soveel slypskole moontlik by en lees, lees, lees. Lees ander skrywers se blogs en neem hulle raad ter harte. Kyk na die tegniese versorging van gepubliseerde romanses. Weet vir watter mark jy skryf en moet nooit jou leser onderskat en dinge aan karakters toedig wat onrealisties of swak nagevors is nie. Die belangrikste les wat ek moes leer, was hoe om my rekenaar tegnies in te stel, sodat die paragrawe se kantspasies korrek is, die insprong (indent) reg is en dat tydspronge met spasies aangedui word. Ek moes ook leer presies hoe om dialoog te skryf en leestekens korrek aan te wend. Sluit gerus by die Taalkommissie se Facebookblad aan. Hulle gee inligting oor vas en losskryf van woorde ensovoorts. Ekself geniet ook die blad: Taalgoggas en balbyters. Daar is gereeld interessante taalvrae wat deur kundiges hanteer word. Sorg dat jy die WAT, HAT en Pharos byderhand het en laai ʼn goeie Afrikaanse speltoetser af. Laastens, wees gedissiplineerd en beplan om elke dag te skryf. Doen BOC (bum on chair)  en SKRYF.

Petronel, dankie vir die gesels. Ek sien uit daarna om “Jy is myne alleen” te lees en hoop dit is die eerste pennevrug van vele.

 

 

Die Lekkerte van Kortverhale April 8, 2012

Ek het myself nog nooit beskou as iemand wat kortverhale kan skryf nie. Daarvoor is ek gewoon te langdradig. As ek ‘n boek van 55 000 woorde moet skryf, eindig ek op met 65 000. Dit neem my amper net so lank om my skryfsels agterna te streamline as om hulle in die eerste plek te skryf. Hoe op aarde sal ek dit regkry om ‘n storie in 1500 woorde te vertel? Nee wat, kortverhale is nie vir my nie.

Verlede jaar woon ek toe die ATKV se Lenteskool by. Een van die eerste lesings is deur Leon van Nierop, VROUEKEUR se verhaleredakteur. Hy praat oor hoe om ‘n goeie kortverhaal te skryf. Ons hang aan sy lippe. Daar en dan neem ek twee besluite:

  1. Eendag gaan ek nog ‘n bangmaak-riller skryf en
  2. Ek gaan sommer binnekort nog ‘n kortverhaal probeer.

Tydens middagete sterk een van die kursusgangers, wat self al ‘n hele spul kortverhale gepubliseer het, my in my kwaad. “Dis soveel lekkerder as ‘n boek,” vertel sy entoesiasties. “Met ‘n boek wroeg jy vir maande. Met ‘n kortverhaal wroeg jy vir ‘n naweek.”

Wow, dink ek, dit klink amper te goed om waar te wees. Ek gaan dit wraggies probeer.

My eerste kortverhaal, Die Vark in die Verhaal, verskyn in die VROUEKEUR van 20 April. Volgens Leon het ek mooi geluister na sy lesing. (Ek het notas gemaak!). Hier is ‘n paar tips wat ek by Leon geleer het:

  1. Begin in media res. Met ander woorde, begin in die middel van die aksie. Dit geld nie net vir kortverhale nie, maar vir romanses ook. Ek het onlangs gelees wat die editors van Harlequin Romantic Suspense beskou as die mees algemene fout wat nuwe skrywers maak. Hulle begin glo die boek met die heldin in haar kar, oppad na die plek waar die aksie gaan begin. Dis vervelig, begin liewers in die middel van die aksie. Jy kan enige back story later inwerk.
  2. Dink aan ‘n kortverhaal as ‘n slice of life. Een van die kursusgangers het my later vertel dat mens glo moet probeer om die gebeure van ‘n kortverhaal tot ‘n tydperk van 24 uur te beperk. ‘n Kortverhaal is dus nie ‘n hele storie wat jy bloot in breë trekke en gestroopte taal vertel nie, dis eerder ‘n insident. ‘n Storie binne ‘n storie, as jy wil.
  3. Kry ‘n wow eerste sin. As jy jou eerste sin het, het jy dikwels jou hele storie. Leon het die volgende voorbeelde gegee: “Toe sy wakker word, is daar bloed op haar hande.” Of: ‘Ek dink nie daar was al ooit só ‘n reaksie op ‘n advertensie nie.” As jy inspirasie soek, kan jy gerus gaan kyk op http://www.postsecret.com. Dis ‘n wonderlike plek om eerste sinne te kry.
  4. Meeste goeie verhale begin met die vraag: what if?
  5. In ‘n kortverhaal het jy min ruimte vir karakterisering. Jy moet dus die kuns bemeester om ‘n karakter met een of twee sinne te teken. Leon se voorbeeld: “Toe hy sy rugbybal neersit en na sy lessenaar kyk, weet hy dat hy die gedig vir haar nou moet klaarmaak.”
  6. In ‘n kortverhaal is dit amper nog belangriker om die goue reël van skryf na te volg: show, don’t tell.
  7. ‘n Kortverhaal moet beweeg. Sorg dat jou karakters anders is aan die einde van die verhaal as aan die begin.
  8. Die geheim van ‘n goeie storie is konflik.
  9. Hou jou oë en ore oop. Oral waar jy gaan, is daar stories. Luister na mense – dis hoe jy goeie dialoog optel.
  10. Hou jou beskrywings gestroop. Minder is meer.