ameliastrydomskryf

‘n Geselsie met Madelie Human Junie 10, 2012

Madelie Human, skrywer van romantiese komedies

My derde romanse, Bosveldliefde vir Jemma, sal later hierdie maand op die rakke wees. In die lig van hierdie happy event, het ek met Madelie Human, skrywer van heerlike romantiese komedies, gesels oor die skryfproses en die genre. Gaan lees gerus die onderhoud by

’n Kuiertjie met Amelia Strydom, skrywer van mediese romanses


en moenie skaam wees om te laat hoor wat jy dink nie.

 

Hoekom Ek Romanse Skryf Maart 29, 2012

Die ander dag vind ‘n kollega uit my ‘ander’ lewe uit dat ek romanses skryf. “Mag ek jou maar spot?” vra sy laggend.

Mag jy my maar spot? Wat, presies, wonder ek, is daar om mee te spot? Bedoel jy dat jy met my wil spot omdat ek romanses skryf – ontspanningsliteratuur – en nie ernstige letterkunde nie? In daardie geval, mag ek jou maar spot omdat jy ‘n verpleegster in plaas van ‘n dokter geword het? Die een beroep gaan immers nie met soveel status as die ander gepaard nie. Mag ek jou maar spot omdat jy ‘n werk gekies het wat pyn verlig en lyding voorkom en troos verskaf wanneer die lewe op sy donkerste is? Want weet jy wat? Dis wat ek ook doen met die romanses waarvoor jy dink jy kan lag.

Of spot jy my dalk omdat jy dink ek is ‘n romantiese siel? Is daar iets mee verkeerd? As daar is, my liewe vriendin, hoekom luister jy na musiek? Gaan die meeste van die liedjies nie maar oor die liefde nie? Hoekom gaan fliek jy? Raak jy nie moeg vir al die stories wat handel oor die liefde nie? Bowenal, hoekom is jy getroud? Hoekom wil jy graag kinders hê? Dit wys tog dat jy nie verhewe is bo daardie uiters menslike behoefte nie: die behoefte aan iemand aan wie jy kan behoort, aan iemand om jou lewe mee te deel, aan iemand wat aan jou verganklike lewe betekenis kan gee.

Ek lees gewis nie net romanses nie. Maar kyk ek terug na die swaarste tye in my lewe, tye van depressie, miskrame, die dood van geliefdes, besef ek dis die tye waarin ek romanses verslind het. Danielle Steele, Jane Austen, Barbara Taylor Bradford, Nora Roberts, Eleanor Baker, Tryna du Toit. Weerkaatsings en Daddy Longlegs en Zoya en Sense and Sensibility. Troosboeke, soos tjoklits en melkkos en koekies trooskos is. Boeke wat my geselskap gehou het wanneer die lewe net te veel geword het. Hierdie stories en karakters het my help ontvlug uit ‘n ondraaglike realiteit en my terselfdertyd die krag gegee om een voet voor die ander te sit in die vaste vertroue dat this, too, shall pass. Want die lewe is eintlik maar baie soos ‘n boek: as jy een sin na die ander lees, een bladsy na die ander omblaai, begin die deurmekaar drade van ‘n eens onverstaanbare narratief later betekenis aanneem. Kom jy agter dat random gebeure betekenis kry teen die agtergrond van jou lewe, dat selfs die harde, skewe lyne eindelik deel vorm van die beeld op die skilderdoek. Eindelik onlosmaaklik deel word van wie jy is, lig sowel as skaduwee.

Ek skaam my nie vir my liefdesverhale nie. Ek’s eintlik baie trots op hulle. Enigiemand wat dink dat romanses iets is om mee te spot, kan gerus maar self ene probeer skryf. Komaan, ek dare julle! Dalk vind julle uit, nes die res van ons romanseskrywers, hoe terapeuties dit is om met ‘n blank dokument en ‘n blinking cursor te begin en eindelik ‘n storie te hê van twee halwe, stukkende mense wat saam heel word – in hulself sowel as in hul verhouding.

Die ander dag sit ek en skryf toe my elfjarige dogtertjie, Tamika, by die kamer ingestorm kom. “Mamma!” roep sy uit, met soveel rou tragedie in haar stem dat ek al begin dink waar ons die hond gaan begrawe. “Stephen het vir Cassandra gelos!” Sy bars in trane uit en snik asof haar hartjie wil breek.

Huh, dink ek. Stephen? Cassandra? Ons het nie sulke honde nie. Praat die kind dalk van ‘n fliek?

Sy gooi ‘n boek voor my op die bed neer. I Capture the Castle deur Dodie Smith. Een van my gunstelinge, die soort boek wat

Tamika

Tamika

ek nie kon wag om vir my dogters te gee nie.

“Jy’t gesê dis ‘n romance,” huil sy. “Ek het gedink dit het ‘n happy ending!”

Aan die einde van hierdie maand herdenk my Tamika haar vierde jaar met Tipe 1 diabetes. Sy was net sewe toe sy ‘n maagvirus gekry het – dieselfde virus wat my ander vier kinders sonder enige nagevolge gehad het. In haar geval het die virus ‘n outo-immuun respons gesneller wat haar pankreas vernietig het. ‘n Kombinasie van ‘n genetiese geneigdheid en rotten luck. Tamika moet voor elke ete haar vinger prik om haar bloedglukose te toets en haarself met insulien inspuit. Elke keer as sy ‘n seer keel of ‘n loopneus het, of as sy stres oor haar balleteksamen,  is haar suiker buite beheer. Soms, veral na strawwe oefening, daal dit so laag dat sy naar en flou en beangs voel. Dat sy letterlik nie logies kan dink nie, want haar brein het nie genoeg glukose daarvoor nie. Ons hou haar lewe so normaal as moontlik, maar dit bly ‘n ontsettende verantwoordelikheid vir ‘n lieflike klein lyfie. Dit bly ‘n flippen raw deal, veral vir ‘n romantiese sieletjie wat my nou die dag gevra het of die miere hul dooie maters wegdra om te gaan begrafnis hou (um, nee, my kind, ek dink die gevalle soldate word aandete!).

As jy my vra, het Tamika genoeg skaduwees van haar eie in haar lewe. ‘n Happy ending is waaragtig nie te veel gevra nie. So nou is ons versigtig vir stories wat nie deliver nie. Daar is niks wat my so gelukkig maak as om vir Tamika my romanses te gee en die sterre in haar ogies te sien nie. “Dis so romantic, Marmee” (Tamika noem my Marmee, soos die ma in Little Women),  of “Jou held is dreamy” is die grootste kompliment wat ek ooit vir my skryfwerk kan ontvang. Nie eens ‘n Nobel-prys vir romanse – as daar ooit so iets sou wees! – kan naby die tevrede suggie kom waarmee sy een van my boeke neersit nie. Stephen King sê in On Writing hy skryf vir sy vrou, Tabitha. Ek skryf vir Tamika, my inspirasie. En vir al die ander vroue in Suid-Afrika wat ‘n happily-ever-after nodig het.

En daarom, my liewe kollega, is ek nie skaam om romanse te skryf nie. Nie eens ‘n bietjie nie. Spot maar as jy wil, maar om geluk met mens se stories te saai, is voorwaar nie ‘n meaningless ding om met jou lewe te doen nie. As jy my vra, is dit moerse edel. Sela.