My seun met Balto en Cindy
Wat doen jy wanneer jy inspirasie nodig het? Asseblief, moenie preek nie! Ek weet skrywers is nie veronderstel om te wag vir inspirasie nie. Ek weet skryf is een persent inspirasie en nege-en-negentig persent perspirasie. Dat mens elke dag moet skryf, of jy nou lus voel daarvoor of nie. Dat jy nooit êrens gaan kom as jy sit en wag vir inspirasie nie. Ek weet selfs dat die lesers op die ou end waarskynlik nie kan onderskei tussen die dele in die boek waar jy vol inspirasie was en die dele waar jy vir ure na die skerm sit en staar het nie. Probeer dit bietjie: lees jou manuskrip na die tyd deur en kyk of jy kan onthou waar jou vingers oor die sleutels gevlieg en waar jy dit oorweeg het om nooit weer iets anders as tjeks en kruidenierslysies te skryf nie. Gewoonlik moet mens maar skryf, of jy nou geïnspireerd voel of nie.
Maar wens jy nie partykeer mens kon inspirasie in ‘n botteltjie koop nie? Amper soos homeopatiese druppeltjies wat jy op jou tong gooi. Niks farmaseuties nie – niks onnatuurliks nie – net ‘n ultra-klein dosis wat eintlik jou liggaam se eie inherente inspirasie stimuleer. Sou ons nie ‘n fortuin met so ‘n middel kon maak nie?
Hier is ‘n paar dinge wat vir my werk wanneer my muse PMS het:
• Gaan sien ‘n kunsfliek, iets met stunning fotografie. Voer vir jou brein ongewone beelde. Dikwels spark dit net iets in jou suwwe verstand.
• Blaai deur tydskrifte en maak ‘n collage omtrent jou projek. Begin deur AL die images uit te skeur wat vir jou die atmosfeer van jou storie verpersoonlik. Kies ‘n groterige beeld as agtergrond. Knip nou die res van die prente wat met jou praat uit, en plak hulle op die agtergrond om ‘n nuwe beeld te skep. Die beeld moet ‘n storie vertel. Freewrite dan vir so tien minute oor die storie. Ou National Geographics maak fantastiese collages. Dit voel soos heiligskennis om uit hulle te knip, maar tweedehandse boekwinkels hou dikwels spotgoedkoop ou kopieë aan.
• Freewrite met jou non-dominante hand oor jou storie. Soms sal ek ‘n onderhoud voer met een van my karakters. Ek skryf ‘n vraag met my dominante hand (in een kleur pen) en laat my karakter met my non-dominante hand antwoord in ‘n ander kleur. Klink skisofrenies, ek weet, maar vir my het dit regtig al wondere verrig. Volgens James Frey is skrywersblok dikwels te wyte aan ‘n onvoldoende kennis van ons karakters. Hierdie tegniek is daarop gemik om hulle beter te leer ken, en om ‘n ander deel van die brein te gebruik.
• Gaan stap – verkieslik met ‘n hond. My seun se Husky, Balto, was in ‘n vorige lewe ‘n personal trainer (wat natuurlik verklaar waarom hy in ‘n laer inkarnasie moes terugkom!). Hy trek mens teen so ‘n pas agter hom aan, dat jy nie anders kan as om deur die pyn-barrier te breek en ‘n endorfien-rush te kry nie. Na ‘n halfuur saam met hom is ek maar net te bly om weer voor my rekenaar te mag gaan stilsit. En ek’s natuurlik so natgesweet dat ek eers moet stort – ‘n aktiwiteit wat om die een of ander onverklaarbare rede ook my kreatiwiteit stimuleer. My kinders is heeltemal gewoond daaraan om my kaal en druipnat na my rekenaar te sien storm. Hopelik sal daardie topverkoper wat ek eendag nog gaan skryf, vir die terapie betaal.
• Knip ‘n uiltjie. Mens se brein is ongelooflik kreatief in daardie limbo-area tussen slaap en wakker. Maak net seker dat jy jou idees gou-gou neerskryf voor jy verder dut. Ek vergeet myne gewoonlik!
• Gaan loop in ‘n boekwinkel rond. Herinner jouself daaraan dat al die boeke wat nou op die rakke staan, geskryf is deur mense wat soos jy gevoel het. Kyk sommer waar op die rak jou boek sal staan, en visualiseer hom daar.
• Lees – veral iets uit ‘n ander genre. My romanses het al wonderlike inspirasie-inspuitings gekry uit tydskrifte en selfs horror-boeke (moenie vra nie…)
• Skryf aan iets heeltemal anders as jou boek. Stel ‘n timer vir tien minute. Gryp ‘n vinnige pen en ‘n goedkoop oefeningboek. Hou jou hand aan die beweeg – moenie ophou nie. As jy nie weet wat om te skryf nie, skryf “ek weet nie wat om te skryf nie”. Probeer soveel sensoriese detail as moontlik gebruik: wat jy gehoor, gesien, geruik, gevoel en geproe het. Natalie Goldberg se Old Friend From Far Away het heerlike prompts, maar jy kan ook idees van die internet aflaai of selfs een lyntjie uit ‘n gedig gebruik as jou eerste sin. Ek glo ‘n mens gebruik makliker jou authentic stem in jou fiksie as jy eers vir ‘n paar minute iets outobiografies skryf, soos ‘n herrinering.
• Verf, teken of spoeg-en-plak. Ek dink nie dis toeval dat ek ernstig begin skryf het in die jaar wat ek ‘n kreatiwiteitsklas by ‘n kunsterapeut begin loop het nie. Hierdie kursus was proses-gedrewe eerder as produk-gedrewe. Dit het my soveel geleer oor die skryfproses – oor hoe om my innerlike skepper van my innerlike ‘editor’ te skei. Goeie boeke oor proses-gedrewe kuns is No More Secondhand Art deur Peter London en Life, Paint and Passion deur Michelle Cassou en Stewart Cubley. Scrapbooking is goud werd vir ‘n skrywer, glo ek. Mens kan heerlik dink terwyl jy sit en knip en die gevoel van voldoening en voltooiing wat jy kry wanneer jy ‘n blad klaargemaak het, dra oor na jou skryfwerk. Onthou om jou muse die hof te maak – om haar te plesier met vorme van kreatiwiteit wat soos speel voel eerder as werk. Dit inspireer my om selfs net deur ‘n winkel vol scrapbook-papier te loop. Hoewel dit natuurlik ook ‘n geval van noodsaaklikheid kan wees. Ek’s geneig om soveel geld in sulke winkels te spandeer dat ek noodgedwonge moet werk om die gewoonte te onderhou.
Die uitsig van die stoep op Poplar Grove
• Skryf iewers anders. Gaan sit in ‘n koffiewinkel of in die Botaniese Tuine. Skryf met die hand. Of gebruik jou skootrekenaar – sonder die kragprop. Dit sal jou dwing om vinnig en dringend te skryf, wat outomaties die ‘editor’ in jou kop afskakel. Beter nog, gaan op ‘n writer’s retreat – alleen of saam met ander. My gunstelingplek daarvoor is Poplar Grove Farm naby Colesberg in die Karoo. Daar kan ek op die stoep sit en die oopte van die landskap rondom my toelaat om my siel te voed.
Het jy enige tips om te deel? Wat inspireer jou? Asseblief, moenie skaam wees nie. Jou wenk kan vir ‘n medeskrywer die verskil maak tussen ‘n produktiewe en onproduktiewe dag!