ameliastrydomskryf

As daardie spiertjie in jou held se wang te dikwels spring… Augustus 22, 2012

Elke skrywer het sekere fisiese aanduidings van emosie wat sy/hy geneig is om oor en oor te gebruik. Hoewel sulke gewoontetjies kan help met karakterbou, klink dit maklik holrug gery. Dit kan selfs jou lesers ‘n pyn gee. (As jy my nie glo nie, lees gerus die Fifty Shades trilogie: “Don’t bite your lip, Miss Steele.”)

Maar hoe hou jy jou uitdrukkings vars? Hoe vermy jy clichés soos daardie spiertjie wat in die held se wang spring sodra hy hom vererg (ek moet ‘n persoonlike swakheid vir daardie spiertjie erken, dis van jongs af vir my baie sexy!).

Natuurlik word enige skrywer wat haar sout werd is, ‘n student van mense. Jy luister hul gesprekke af (‘n onderwerp vir ‘n ander post!) en jy hou hulle onbeskaamd dop in die mall. Maar mense is ongelukkig geneig om hul mees intense emosies agter toe deure te beleef. Baie lastig vir ‘n skrywer!

Flieks en DVDs los deels hierdie probleem op, want intense emosies is juis die stuff waarvan box office hits gemaak word. Ek het al sover gegaan om my gunsteling DVDs met ‘n notaboek in die hand te kyk. Natuurlik moet jy akteurs dophou wat actually kan toneelspeel, anders help dit nie veel nie.

Maar ek het onlangs ‘n kortpad ontdek – ‘n handige gids wat ek oral kan saamdra: The Emotion Thesaurus. En glo my, ek het al waarde vir my $4-99 gekry! Die twee wonderlike skrywers, Angela Ackerman en Becca Puglisi, het ‘n lys van moontlike emosies gemaak. Elke emosie het ‘n lys van fisiese tekens, innerlike sensasies, intellektuele reaksies sowel as tekens van die onderdrukking van hierdie emosie. Byvoorbeeld vir die emosie anger is ‘n moontlike fisiese teken ‘n rooi gesig, ‘n moontlike innerlike sensasie (you guessed it…) ‘n gekners van tande (wat natuurlik tot die sexy spiertjie in die wang lei), ‘n intellektuele reaksie fantasizing violence en tekens van die onderdrukking van woede is ‘n carefully controlled tone. Handig, of hoe?

 

Tien Name wat jy NIE vir die Held in jou Romanse Moet Gebruik NIE April 10, 2012

Dis so moeilik om ‘n mooi Afrikaanse naam vir ‘n held te kry. Ons (Amelia en Maja) probeer al die hele dag om met ‘n sexy naam vir die held in Maja se storie vorendag te kom. Ons het nog nie een nie (voorstelle is welkom), maar ons het darem al ‘n kortlys van name wat ons NIE gaan gebruik nie. As een van hulle die naam van jou man, jou seun, of (behoede tog!) jou karakter is, vra ons nederig om verskoning. Wat kan ons sê? Die realiteit is soms ver verwyder van romanse …

  1. Naas. Ná Naas Botha – en Leon Schuster se grappies oor die arme man – sal ons nooit weer die naam kan hoor sonder om aan die Springbok met sy Haas-Das-tande te dink nie. Sporthelde maak oor die algemeen nie goeie romanse-helde nie, skryf Leslie Wainger in Writing a Romance Novel for Dummies. Meeste vrouens is gatvol om tweede viool te speel wanneer Manlief sport kyk. (Dieselfde geld vanselfsprekend vir Joost, Uli, Fanie en Guthro, hoewel ons dink laasgenoemde is nogal oulik).Naas is ons nommer een no-no naam omdat dit met soveel nonsens rym. Hoe klink die volgende liefdesbetuigings? O Naas, jy laat my kop raas. Jy’s die baas van my plaas, Naas, en ek dink jy’s kaas…
  2. Wim. Geen vrou wil die held se naam assosieer met iets waarmee sy die oond skrop of die wasbak skoonmaak nie. Andy is dus ook uit, al is hy ook hoe handy. In die huis of die slaapkamer (sê Amelia terwyl Maja bloos).
  3. Faf. Vat hom, Faffie! Sien asseblief # 1 vir kommentaar oor sporthelde.
  4. Petrus. Wie wil nou ‘n heilige verlei?
  5. Kees. Klink vir ons te veel na die missing evolutionary link.
  6. Gaylord.  Maak jou eie afleidings. As jy nog twyfel, gaan kyk gerus Meet the Parents en sy opvolgflieks om te sien hoe lelik dinge vir ‘n held met hierdie naam kan skeefloop.
  7. Athol. Sê dit ‘n paar keer vinnig na mekaar nadat jy ‘n paar tequilas gedown het en jy sal weet hoekom. As jy ‘n geheelonthouer is, kan jy Made of Honor op DVD uitneem. Ons het dit al vier of vyf keer gesien en lag nog elke keer vir die ou tante wat met trots lispel: We come from a long line of Athol’s. Wat die fliek nog beter maak, is dat Patrick Dempsey daarin speel. Net jammer sy tweede naam is Galen …
  8. Barney. Baie romanselesers het kinders en is keelvol vir die purple dinosaur waarna hulle tot vervelens toe moes kyk ter wille van die vrede. Barney is nie ‘n goeie naam vir ‘n held nie, al sing hy ook I Love You.
  9. Bernard. Niks fout met die naam nie, dit klink nogal mooi. Die probleem is net dat dit ons aan Josef-honde laat dink. Alom bekend vir hul reddingspogings in die Alpe, maar ook vir hul kwylbekke. Sal ‘n Bernard ooit lekker kan soen? Ons glo nie. Ons dink jy sal waarskynlik ‘n duikbril nodig hê.
  10. Septimus. Dit klink so … septies. Soos iemand wat werk vir Drain Surgeon, of iets. Boonop herinner dit my (Amelia) aan die Latyn waardeur ek op Hoërskool gewroeg het. Amo, amas, amat … die hond hy soen die kat. Ons sal ook maar liewers die hond soen as iemand met die naam Septimus.

Wat is jou pet peeve as dit by mansname kom? Skryf vir ons, ag toe!

P.S. Dis gewoonlik ook ‘n slim idee om weg te bly van name met dubbele betekenisse. Soos Dick. Of Willy. Of ons persoonlike gunsteling … wait for it … Tollie.

 

So Val die Helde: Hoe om jou Alpha-man te Laat Grovel Maart 14, 2012

Die good old grovel is my gunsteling toneel in enige romantiese komedie wat sy sout werd is. Ek vrek oor die oomblik wanneer die held besef dat slim sy baas gevang het – dat hy ‘n opperste poephol was wat die één vrou weggedryf het waarsonder hy nie kan leef nie. En dat hy nou beter please explain – op sy knieë, asseblief, verkieslik met ‘n verloofring in sy sak – in die hoop dat sy hom dalk terug mag vat, lae luis wat hy is!

Soveel flieks, soveel grovels. Onthou jy nog hoe ons hartjies gebons het toe Richard Gere, hoogtevrees ten spyt, vir Pretty Woman daar uit haar ‘kasteel’ se toring gaan haal het? Veral nadat sy hom vroeër so weergaloos in sy peetjie gestuur het: When I was a little girl, my mama used to lock me in the attic when I was bad, which was pretty often. And I would … pretend I was a princess… trapped in a tower by a wicked queen. And then suddenly this knight… on a white horse with these colours flying would come charging up and draw his sword. And I would wave. And he would climb up the tower and rescue me. But never in all the time… that I had this dream did the knight say to me, “Come on, baby, I’ll put you up in a great condo.”

My persoonlike grovel-gunsteling is Hugh Grant. Hy’s waarlik in ‘n klas van sy eie wanneer dit kom by skuldig lyk. Daai deurmekaar hare. Daai dierbare leepoë – erger as ‘n Basset met ‘n hangover s’n. Ek het nou die dag weer Music and Lyrics gekyk waarin hy sy onvergeetlike grovel sing:

And though I know I’ve already blown more chances

Than anyone should ever get                      

All I’m asking is you don’t write me off just yet

Don’t write me off just yet.

Natuurlik is dit soms die heldinne wat groot askies moet vra. En as hulle dit doen, doen hulle dit in styl! Dink maar aan die dierbare, lawwe Bridget wat in die sneeu uithardloop agter Mark Darcy aan. In haar jas en luiperdvel onderklere! Of Julia wat haar hardloopskoene vir Richard present gee in Runaway Bride? Of in Notting Hill vir Hugh sê: “I’m just a girl, standing in front of a boy asking him to love her.”

Hoe skryf ‘n mens ‘n goeie grovel? Hier is Harlequin outeur Lucy King se raad (lees die hele post op http://www.iheartpresents.com/2010/09/i%E2%80%99m-an-idiot-i-love-you-by-lucy-king/)

“I’m an Idiot, I Love You” by Lucy King

There’s a man on his knees on a doorstep. He’s shouting through a letterbox, pleading with the woman inside, desperate to undo the damage he’s done. Later, there’s a woman, bedraggled and shivering in an oilskin, fighting to win back the man she stupidly rejected…

Ah, who doesn’t love a good grovel in a Presents? The moment when the hero – and it usually is the hero who’s screwed up, isn’t it? – realises he’s been a fool, tracks the heroine down and begs for forgiveness. An alpha male brought to his knees by love? It gets me every time. And the more they suffer, the better!

As it’s probably my favourite part of a Presents, both to write and to read, here’s my 10-step guide to a good hero grovel:

1. Screw up really really badly. Because let’s face it, the worse the screw up, the better the grovel. Suspect the heroine is becoming a Serious Threat to your peace of mind. Possibly jump to the wrong conclusion and accuse her of something she didn’t do/say. Let your own emotional baggage blind you. Whatever the reason, back off faster than you can say ‘Fall in love? Over my dead body’.

2. Leave. Or make the heroine leave. Either way, count your lucky stars that you’ve managed to extricate yourself from a fate worse than death.

3. But hang on a moment. If you’ve been so clever, how come you feel so out of sorts?

4. Reluctantly force yourself to re-assess the values you’ve held all your life, analyse some of the irritatingly valid points the heroine may have made during your last encounter and examine your feelings (shudder).

5. In a burst of clarity realise that you’ve behaved like a complete idiot and make yourself acknowledge that your life is actually pretty pointless without the heroine in it.

6. Waste no time in rectifying the situation. You’re an alpha male, aren’t you? Go and find her. Make a Grand Emotional Gesture. Explain your behaviour. At a push, confess that she might have been right after all. About some things. Possibly. Phew. Sorted.

7. Wait a second. Something isn’t right. Why isn’t she falling into your arms in gratitude? What do you mean that’s not enough?

8. Uhoh. This may call for drastic measures. Gather your strength. Release all those emotions you didn’t even know you had. Take a deep breath and tell her that you love her and can’t live without her.

9. Wait on tenterhooks for the heroine’s reaction. Why is she hesitating? Oh, this isn’t fair. Haven’t you suffered enough already? Send a prayer of gratitude to your author when the heroine finally puts you out of your misery and confesses that she loves you too.

10. Now she falls into your arms. Thank goodness for that. Live happily ever after.

 

 

 

Empatie: Die Verantwoordelikheid van die Romanseskrywer Maart 12, 2012

Ons het elkeen iets wat ons hoop om met ons kinders se opvoeding te vermag. Vir party ouers is dit belangrik dat hul kinders onafhanklik grootword, dat hulle so spoedig moontlik op hul eie bene kan staan. Ander hoop om ambisie in hul spruite te kweek, of ondernemingsgees of onbaatsugtigheid. Vir my was empatie die belangrikste kwaliteit: ek wou graag my kinders inspireer om hul eie en ander se gevoelens te verstaan en te respekteer. Om hierdie rede het ek en my man gehegtheidsouerskap (attachment parenting) nagestreef. Ons het sover moontlik probeer om ons babas se behoeftes te bevredig: as hulle honger was, het ek hulle gevoed; as hulle bang of eensaam was, het ek hulle opgetel en getroos. Sommige mense het gevoel ons bederf hulle, maar ek het gedink (en doen trouens steeds) dat mens kinders nie met liefde bederf nie.

Dit het egter gou vir my duidelik geword dat kinders nie noodwendig van nature empaties is nie, en dat alle kinders dit ook nie ewe maklik vind om hulself in iemand anders se posisie te plaas nie. Empatie is iets wat gekweek word, dit groei nie sommer vanself nie.

Ek het egter ontdek dat daar ‘n ekonomiese, effektiewe manier is om kinders empatie te leer. Lees vir hulle stories. ‘n Storie laat ‘n kind toe om iemand anders se lewe aan te probeer, om homself in die karakter se skoene te plaas. Die beste stories kry dit reg sonder om ooit ‘n enkele woord te preek. My oudste seun is nou amper sestien, en deur die jare het ons soveel karakters ontdek en soveel ‘tweedehandse’ lewenservaring opgedoen uit die boeke wat ek saans vir hulle voorlees. Boonop lei die karakters se dilemmas tot soveel interessante, verrykende gesprekke. Op die oomblik is ek byvoorbeeld besig om vir die ouer kinders Plague Year deur Stephanie Tolan voor te lees. Dit handel oor die reaksie van ‘n groep leerlinge (en die dorp waarin hulle woon) wanneer hulle uitvind dat ‘n gevreesde reeksmoordenaar se seun saam met hulle skoolgaan. Wat ‘n wonderlike inleiding in die hele nature/nurture debat!

Empatie is net so ‘n belangrike bestanddeel van ‘n suksesvolle romanse (of van enige suksesvolle storie, dink ek). Ons wil immers hê ons lesers moet die storie deur die heldin se oë beleef en saam met haar op die held verlief raak. Juis daarom is dit so belangrik dat ons ‘n simpatieke heldin skep.

Wat is ‘n simpatieke heldin? Iemand het onlangs vir my geskryf dat lesers nie dwarsdeur die boek van my heldin hoef te hou nie, maar hulle moet haar gedrag en haar gevoelens verstaan. Ek dink dis ‘n belangrike punt. Een van die beste boeke wat ek in 2011 gelees het, was ‘n Vrou Gaan Dokter Toe deur Ray Kluun. Ek het die verteller met tye geháát, maar ek het nietemin soveel deernis met hom gehad dat ek gevoel het my hart breek in ‘n duisend stukkies aan die einde van die boek.

Om mens se karakters simpatiek uit te beeld, is dit belangrik dat jy hulle werklik deur-en-deur ken. Jy wys eintlik net vir jou lesers die puntjie van die ysberg van elke karakter se agtergrond en persoonlikheid. Meeste van wat jy oor jou karakters weet, beland nooit op die bladsy nie. Tog maak dit van hulle multidimensionele mense. Ek skryf gewoonlik vir elke karakter ‘n in-diepte profiel. Dikwels is dit nie genoeg nie. Ek moet dieper delf sodat ek uitkom by die karakter se motivering en by haar unieke stem. Dit help om byvoorbeeld ‘n brief te skryf waarin die karakter aan die woord is. Jy kan selfs ‘n dialoog met hom/haar op papier hê. Kry ook ander karakters se insig in die persoon deur hulle te ‘vra’ om jou te vertel wat die één ding is wat jy van daardie persoon moet verstaan. Op hierdie manier kry jy empatie vir jou karakter en help jy ook jou leser om meegevoel te ervaar.

Dit beteken natuurlik nie dat jy saggies en mooi moet werk met jou karakters en vir hulle ‘n rooskleurige storie moet skep nie. Dit sou net vervelig wees! Nee, besluit wat jou karakter nodig het ten opsigte van groei en ontwikkeling en gooi haar aan die diepkant in. Neem weg wat vir haar die belangrikste in haar lewe is en laat haar daarsonder klaarkom of daarvoor baklei. Niemand wil ‘n storie sonder konflik (veral sonder innerlike konflik) lees nie.

Maak jou karakter iemand met teenstrydighede in haar persoonlikheid. Dis gewoonlik die mense wat ons die meeste boei. Wys ons hoe hierdie uiterstes dit binne haar uitstoei en hoe hulle inspeel op haar verhouding met die held. Op hierdie manier verhoed jy kartonkarakters en stereotipering – in jou heldin, jou held en selfs in jou ‘baddie’.

Dit beteken natuurlik dat mens met oop oë deur die lewe moet gaan. Dis soms makliker gesê as gedaan vir skrywers, ons is geneig om dromers te wees wat met een voet in ons stories deur die verkeer bestuur, deur die winkels stap, en selfs met ander praat. My pa het jeugboeke geskryf en het volgehou dat ‘n groot deel van sy inspirasie uit sy belangstelling in mense kom. “Elke mens het ‘n storie,” het hy my graag herinner. “Hy wag net vir ‘n kans om dit te vertel.”

Natuurlik kan mens jou empatie verder ontwikkel deur self baie te lees: fiksie sowel as nie-fiksie. Een van die mees waardevolle kursusse wat ek op universiteit geneem het, was sosiale sielkunde. Daarin het ek geleer wat mense motiveer, hoe opinies gevorm word, hoe mense nuwe inligting prosesseer ensovoorts. Ek het byvoorbeeld geleer dat dit nie waar is dat opposites attract nie. Eintlik is die teenoorgestelde waar: birds of a feather flock together. Dis hoekom getroude pare dikwels so eenders lyk – ons voel aangetrokke tot mense wat ons aan onsself herinner. Ek probeer dus om my helde en heldinne nie te verskillend van mekaar te laat lyk nie, hoewel ek hul persoonlikhede soveel as moontlik laat verskil. Sodoende is daar heeltyd konflik en krapperigheid, maar op die einde van die dag maak die tweetjies mekaar heel.

Nes my taak met my kinders nog nie afgehandel is nie (‘n tiener, soos ‘n kleuter is ‘n redelike self-absorbed wese!), sal ek nooit self so empaties wees as wat ek graag wil nie. Nie in my lewe of in my boeke nie. Dis iets waaraan mens moet werk solank as jy leef. Intussen neem ek my verantwoordelik ernstig op: Ek glo romanseskrywers moet vroue (veral die jongeres) wys hoe ‘n empatiese held en heldin lyk sodat hulle, nes ons karakters, kan streef na heling en heelheid.