ameliastrydomskryf

Empatie: Die Verantwoordelikheid van die Romanseskrywer Maart 12, 2012

Ons het elkeen iets wat ons hoop om met ons kinders se opvoeding te vermag. Vir party ouers is dit belangrik dat hul kinders onafhanklik grootword, dat hulle so spoedig moontlik op hul eie bene kan staan. Ander hoop om ambisie in hul spruite te kweek, of ondernemingsgees of onbaatsugtigheid. Vir my was empatie die belangrikste kwaliteit: ek wou graag my kinders inspireer om hul eie en ander se gevoelens te verstaan en te respekteer. Om hierdie rede het ek en my man gehegtheidsouerskap (attachment parenting) nagestreef. Ons het sover moontlik probeer om ons babas se behoeftes te bevredig: as hulle honger was, het ek hulle gevoed; as hulle bang of eensaam was, het ek hulle opgetel en getroos. Sommige mense het gevoel ons bederf hulle, maar ek het gedink (en doen trouens steeds) dat mens kinders nie met liefde bederf nie.

Dit het egter gou vir my duidelik geword dat kinders nie noodwendig van nature empaties is nie, en dat alle kinders dit ook nie ewe maklik vind om hulself in iemand anders se posisie te plaas nie. Empatie is iets wat gekweek word, dit groei nie sommer vanself nie.

Ek het egter ontdek dat daar ‘n ekonomiese, effektiewe manier is om kinders empatie te leer. Lees vir hulle stories. ‘n Storie laat ‘n kind toe om iemand anders se lewe aan te probeer, om homself in die karakter se skoene te plaas. Die beste stories kry dit reg sonder om ooit ‘n enkele woord te preek. My oudste seun is nou amper sestien, en deur die jare het ons soveel karakters ontdek en soveel ‘tweedehandse’ lewenservaring opgedoen uit die boeke wat ek saans vir hulle voorlees. Boonop lei die karakters se dilemmas tot soveel interessante, verrykende gesprekke. Op die oomblik is ek byvoorbeeld besig om vir die ouer kinders Plague Year deur Stephanie Tolan voor te lees. Dit handel oor die reaksie van ‘n groep leerlinge (en die dorp waarin hulle woon) wanneer hulle uitvind dat ‘n gevreesde reeksmoordenaar se seun saam met hulle skoolgaan. Wat ‘n wonderlike inleiding in die hele nature/nurture debat!

Empatie is net so ‘n belangrike bestanddeel van ‘n suksesvolle romanse (of van enige suksesvolle storie, dink ek). Ons wil immers hê ons lesers moet die storie deur die heldin se oë beleef en saam met haar op die held verlief raak. Juis daarom is dit so belangrik dat ons ‘n simpatieke heldin skep.

Wat is ‘n simpatieke heldin? Iemand het onlangs vir my geskryf dat lesers nie dwarsdeur die boek van my heldin hoef te hou nie, maar hulle moet haar gedrag en haar gevoelens verstaan. Ek dink dis ‘n belangrike punt. Een van die beste boeke wat ek in 2011 gelees het, was ‘n Vrou Gaan Dokter Toe deur Ray Kluun. Ek het die verteller met tye geháát, maar ek het nietemin soveel deernis met hom gehad dat ek gevoel het my hart breek in ‘n duisend stukkies aan die einde van die boek.

Om mens se karakters simpatiek uit te beeld, is dit belangrik dat jy hulle werklik deur-en-deur ken. Jy wys eintlik net vir jou lesers die puntjie van die ysberg van elke karakter se agtergrond en persoonlikheid. Meeste van wat jy oor jou karakters weet, beland nooit op die bladsy nie. Tog maak dit van hulle multidimensionele mense. Ek skryf gewoonlik vir elke karakter ‘n in-diepte profiel. Dikwels is dit nie genoeg nie. Ek moet dieper delf sodat ek uitkom by die karakter se motivering en by haar unieke stem. Dit help om byvoorbeeld ‘n brief te skryf waarin die karakter aan die woord is. Jy kan selfs ‘n dialoog met hom/haar op papier hê. Kry ook ander karakters se insig in die persoon deur hulle te ‘vra’ om jou te vertel wat die één ding is wat jy van daardie persoon moet verstaan. Op hierdie manier kry jy empatie vir jou karakter en help jy ook jou leser om meegevoel te ervaar.

Dit beteken natuurlik nie dat jy saggies en mooi moet werk met jou karakters en vir hulle ‘n rooskleurige storie moet skep nie. Dit sou net vervelig wees! Nee, besluit wat jou karakter nodig het ten opsigte van groei en ontwikkeling en gooi haar aan die diepkant in. Neem weg wat vir haar die belangrikste in haar lewe is en laat haar daarsonder klaarkom of daarvoor baklei. Niemand wil ‘n storie sonder konflik (veral sonder innerlike konflik) lees nie.

Maak jou karakter iemand met teenstrydighede in haar persoonlikheid. Dis gewoonlik die mense wat ons die meeste boei. Wys ons hoe hierdie uiterstes dit binne haar uitstoei en hoe hulle inspeel op haar verhouding met die held. Op hierdie manier verhoed jy kartonkarakters en stereotipering – in jou heldin, jou held en selfs in jou ‘baddie’.

Dit beteken natuurlik dat mens met oop oë deur die lewe moet gaan. Dis soms makliker gesê as gedaan vir skrywers, ons is geneig om dromers te wees wat met een voet in ons stories deur die verkeer bestuur, deur die winkels stap, en selfs met ander praat. My pa het jeugboeke geskryf en het volgehou dat ‘n groot deel van sy inspirasie uit sy belangstelling in mense kom. “Elke mens het ‘n storie,” het hy my graag herinner. “Hy wag net vir ‘n kans om dit te vertel.”

Natuurlik kan mens jou empatie verder ontwikkel deur self baie te lees: fiksie sowel as nie-fiksie. Een van die mees waardevolle kursusse wat ek op universiteit geneem het, was sosiale sielkunde. Daarin het ek geleer wat mense motiveer, hoe opinies gevorm word, hoe mense nuwe inligting prosesseer ensovoorts. Ek het byvoorbeeld geleer dat dit nie waar is dat opposites attract nie. Eintlik is die teenoorgestelde waar: birds of a feather flock together. Dis hoekom getroude pare dikwels so eenders lyk – ons voel aangetrokke tot mense wat ons aan onsself herinner. Ek probeer dus om my helde en heldinne nie te verskillend van mekaar te laat lyk nie, hoewel ek hul persoonlikhede soveel as moontlik laat verskil. Sodoende is daar heeltyd konflik en krapperigheid, maar op die einde van die dag maak die tweetjies mekaar heel.

Nes my taak met my kinders nog nie afgehandel is nie (‘n tiener, soos ‘n kleuter is ‘n redelike self-absorbed wese!), sal ek nooit self so empaties wees as wat ek graag wil nie. Nie in my lewe of in my boeke nie. Dis iets waaraan mens moet werk solank as jy leef. Intussen neem ek my verantwoordelik ernstig op: Ek glo romanseskrywers moet vroue (veral die jongeres) wys hoe ‘n empatiese held en heldin lyk sodat hulle, nes ons karakters, kan streef na heling en heelheid.