Dis so moeilik om ‘n mooi Afrikaanse naam vir ‘n held te kry. Ons (Amelia en Maja) probeer al die hele dag om met ‘n sexy naam vir die held in Maja se storie vorendag te kom. Ons het nog nie een nie (voorstelle is welkom), maar ons het darem al ‘n kortlys van name wat ons NIE gaan gebruik nie. As een van hulle die naam van jou man, jou seun, of (behoede tog!) jou karakter is, vra ons nederig om verskoning. Wat kan ons sê? Die realiteit is soms ver verwyder van romanse …
- Naas. Ná Naas Botha – en Leon Schuster se grappies oor die arme man – sal ons nooit weer die naam kan hoor sonder om aan die Springbok met sy Haas-Das-tande te dink nie. Sporthelde maak oor die algemeen nie goeie romanse-helde nie, skryf Leslie Wainger in Writing a Romance Novel for Dummies. Meeste vrouens is gatvol om tweede viool te speel wanneer Manlief sport kyk. (Dieselfde geld vanselfsprekend vir Joost, Uli, Fanie en Guthro, hoewel ons dink laasgenoemde is nogal oulik).Naas is ons nommer een no-no naam omdat dit met soveel nonsens rym. Hoe klink die volgende liefdesbetuigings? O Naas, jy laat my kop raas. Jy’s die baas van my plaas, Naas, en ek dink jy’s kaas…
- Wim. Geen vrou wil die held se naam assosieer met iets waarmee sy die oond skrop of die wasbak skoonmaak nie. Andy is dus ook uit, al is hy ook hoe handy. In die huis of die slaapkamer (sê Amelia terwyl Maja bloos).
- Faf. Vat hom, Faffie! Sien asseblief # 1 vir kommentaar oor sporthelde.
- Petrus. Wie wil nou ‘n heilige verlei?
- Kees. Klink vir ons te veel na die missing evolutionary link.
- Gaylord. Maak jou eie afleidings. As jy nog twyfel, gaan kyk gerus Meet the Parents en sy opvolgflieks om te sien hoe lelik dinge vir ‘n held met hierdie naam kan skeefloop.
- Athol. Sê dit ‘n paar keer vinnig na mekaar nadat jy ‘n paar tequilas gedown het en jy sal weet hoekom. As jy ‘n geheelonthouer is, kan jy Made of Honor op DVD uitneem. Ons het dit al vier of vyf keer gesien en lag nog elke keer vir die ou tante wat met trots lispel: We come from a long line of Athol’s. Wat die fliek nog beter maak, is dat Patrick Dempsey daarin speel. Net jammer sy tweede naam is Galen …
- Barney. Baie romanselesers het kinders en is keelvol vir die purple dinosaur waarna hulle tot vervelens toe moes kyk ter wille van die vrede. Barney is nie ‘n goeie naam vir ‘n held nie, al sing hy ook I Love You.
- Bernard. Niks fout met die naam nie, dit klink nogal mooi. Die probleem is net dat dit ons aan Josef-honde laat dink. Alom bekend vir hul reddingspogings in die Alpe, maar ook vir hul kwylbekke. Sal ‘n Bernard ooit lekker kan soen? Ons glo nie. Ons dink jy sal waarskynlik ‘n duikbril nodig hê.
- Septimus. Dit klink so … septies. Soos iemand wat werk vir Drain Surgeon, of iets. Boonop herinner dit my (Amelia) aan die Latyn waardeur ek op Hoërskool gewroeg het. Amo, amas, amat … die hond hy soen die kat. Ons sal ook maar liewers die hond soen as iemand met die naam Septimus.
Wat is jou pet peeve as dit by mansname kom? Skryf vir ons, ag toe!
P.S. Dis gewoonlik ook ‘n slim idee om weg te bly van name met dubbele betekenisse. Soos Dick. Of Willy. Of ons persoonlike gunsteling … wait for it … Tollie.