ameliastrydomskryf

‘n Geselsie met Petronel Louw, nuwe Romanza-skrywer Oktober 30, 2014

petronel louwPetronel, jy het onlangs die opwindende nuus gekry dat Lapa jou eerste romanse aanvaar het. Vertel ons bietjie die storie: het jy ʼn oproep of ʼn e-pos gekry? Hoe het jy gevoel? Wat het jy gedoen om die geleentheid te vier?

As debuutskrywer was my kennis oor die tegniese versorging van ʼn manuskrip ʼn groot probleem. My manuskrip is twee maal teruggestuur met die opdrag om dit tegnies op standaard te kry. Die tweede keer het die keurder my die Woensdag laat weet dat as ek die manuskrip ten volle versorg voor komende Maandag 12uur by Lapa kan hê, sal dit vir publikasie oorweeg word. Ek is die Woensdag daarna per e-pos laat weet dat hulle tevrede is. Ons gesin het die geleentheid gaan vier met ʼn lekker uiteet.

Wat is die titel van jou boek? Wanneer verskyn dit en waaroor gaan die storie?

“Jy is myne alleen.” Dit verskyn DV Februarie 2015 op die rake.

Die storie is sommer ʼn lekker ligte romantiese komedie met so klein bietjie drama en baie misverstande.

Die handel oor ʼn maatskaplike werker, Anien, wat na ʼn liefdesteleurstelling ʼn pos as terapeut by ʼn innerlike genesingsoord in die berge van Noordoos Vrystaat aanvaar. Die vonke spat onmiddellik tussen haar en die boer, Theo, wie se plaas aan die genesingsoord grens. Hulle kan egter nie die aantrekkingskrag tussen hulle nie misken nie. As dit net nie was dat Della van die buurplaas haar visier op Theo gehad het nie. Sy doen alles in haar vermoë om Theo se aandag op haar te vestig. Theo sê Della is soos ʼn kleinsus vir hom, maar wanneer sy haar vingers klap, spring hy… selfs op Anien en Theo se wittebrood.

Jy het ʼn interessante werk. Wat doen jy en hoe het jy jou ervaring in jou storie ingeweef?

Ek is ʼn maatskaplike werker in privaat praktyk wat in trauma terapie spesialiseer. Ek verstaan die emosionele proses waardeur mense gaan wat innerlik verwond is, dus gebruik ek my kennis om die karakters so realisties moontlik uit te bou, sonder om dit neerdrukkend te maak. Die speelse element bly vir my belangrik.

Waarom romanse? Is hierdie genre een van jou gunstelinge?

Wat is dan nou lekkerder as om te ontvlug met ʼn lekker liefdesverhaal? Ekself floreer op die lees van romanse, want uit die aard van my werk geniet ek ligte leesvermaak meer. Die genre is definitief my gunsteling, want die intrige van liefdesverhoudings bly vars en interessant. Ek beoog om later op romans met ʼn dieper plot te fokus.

Watter boek/e is op die oomblik op jou bedkassie?

Ek is altyd besig met iets wat waarde toevoeg aan my beroep. Tans lees ek Stephen Madigan se “Narrative Therapy” en die “Afrikaanse Skryfgids”, dan lees ek daarmee saam iets ligs op my Kindle. Op die oomblik is dit: “The matchmaking pact” van Carolyne Aarsen en net voor dit was dit jou romanse, “Ridder in ʼn wit jas”. Ek probeer Afrikaanse en Engelse fiksie afwissel.

Ons het mekaar by die ATKV se Lenteskool vir aspirant liefdesverhaalskrywers ontmoet. Hoe het jy die slypskool ervaar en wat het jy daar geleer?

Vir my is dit onontbeerlik om die ATKV se skryfskole by te woon. Om te skryf is nie net om te sit en skryf nie. Dit is baie tegnies, met ʼn magdom vereistes. Ek het ontsettend baie by die aanbieders geleer. Hulle plaas die essensie van die riglyne vir skryf binne konteks. Ons het ook prakties gedoen, wat ek baie geniet het. ʼn Belangrike les wat ek daar geleer het, is dat kritiek op jou skryfwerk die norm is, dit is ʼn leergeleentheid. Slaan ag op en waardeer elke stukkie kritiek.

Waaraan skryf jy tans?

Ek skryf tans aan twee stories en nog een lê in my agterkop. Een is nog ʼn romantiese komedie met so bietjie misterie en die ander een is ʼn historiese roman.

Sommige skrywers begin met karakters, ander met ʼn storie (plot). Ek het selfs al iemand hoor sê hy begin met die ruimte waarin ʼn storie afspeel. Watter deel van ʼn storie ontkiem eerste in jou kop?

My hoofkarakter maak gewoonlik eerste haar buiging. Die begin ontkiem eerste. Ek is nie ʼn plotter nie. My storie begin net en skryf homself van daar af. Ek dink aan die ruimte en ʼn vraagstuk waarmee hierdie heldin sukkel en ontwikkel dit soos wat ek die storie skryf. Ek ‘sien’ my karakters en die storie soos ʼn fliek.

Hoeveel beplanning doen jy voordat jy begin skryf? En navorsing?

Ek maak seker dat ek my hoofkarakters ken. Dus ontwikkel ek karakterkaarte en hou dit byderhand, sodat my karakters se haarkleur en persoonlikhede nie skielik verander deur die loop van die skryf van die storie nie. Ek doen beslis navorsing. Die beste manier vir my is om met ʼn persoon ʼn onderhoud te gaan voer wat in die beroep staan van my heldin. My volgende romanse handel oor ʼn forensiese ouditeur. Dit is vir my heerlik om ʼn regte forensiese ouditeur met vrae te peper. Vir navorsing oor ruimte het ek byvoorbeeld vir drie dae op ʼn skaapplaas gaan bly en die boer uitgevra. Ek kry ook inligting op die internet en boeke. My een storie hang nou juis, omdat ek nie klaar is met die navorsing nie.

Watter raad het jy vir diegene wat graag romanse wil skryf?

As jy die begeerte het om romanses te skryf en te publiseer woon eers soveel slypskole moontlik by en lees, lees, lees. Lees ander skrywers se blogs en neem hulle raad ter harte. Kyk na die tegniese versorging van gepubliseerde romanses. Weet vir watter mark jy skryf en moet nooit jou leser onderskat en dinge aan karakters toedig wat onrealisties of swak nagevors is nie. Die belangrikste les wat ek moes leer, was hoe om my rekenaar tegnies in te stel, sodat die paragrawe se kantspasies korrek is, die insprong (indent) reg is en dat tydspronge met spasies aangedui word. Ek moes ook leer presies hoe om dialoog te skryf en leestekens korrek aan te wend. Sluit gerus by die Taalkommissie se Facebookblad aan. Hulle gee inligting oor vas en losskryf van woorde ensovoorts. Ekself geniet ook die blad: Taalgoggas en balbyters. Daar is gereeld interessante taalvrae wat deur kundiges hanteer word. Sorg dat jy die WAT, HAT en Pharos byderhand het en laai ʼn goeie Afrikaanse speltoetser af. Laastens, wees gedissiplineerd en beplan om elke dag te skryf. Doen BOC (bum on chair)  en SKRYF.

Petronel, dankie vir die gesels. Ek sien uit daarna om “Jy is myne alleen” te lees en hoop dit is die eerste pennevrug van vele.

 

 

Nuut op die Rak: Ridder in ‘n Wit Jas Oktober 25, 2014

ridderJong dokter Carli het die werk by die mobiele kliniek in die Karoo bitter nodig. Haar suster en swaer se dood, met hope skuld en zero lewensversekering, beteken sy moet baie vinnig lonende werk en goedkoop blyplek vind, en die Karoo bied albei. Rus en vrede ook, hoop sy, en die kans om te herstel van die trauma van haar suster se “ongeluk”.

Maar op die plaas Sielerus aangekom, loop dinge dadelik skeef. Dodelik aantreklike dokter Eben Greyling was ’n manlike kollega te wagte en wil absoluut nié met ’n vrou opgesaal sit op sy plaas nie. Om Carli se nagmerrie te vervolmaak, kom daar ’n uiters onwelkome oproep van die fertiliteitskliniek waar sy voor hul ongeluk as surrogaat probeer optree het vir haar suster en swaer.

Sy móét net eenvoudig hierdie werk behou, en teen sy beterwete bied Eben eindelik vir haar ’n proeftydperk aan. Sal sy die skanse rondom sy hart kan afbreek en haarself onmisbaar maak – in sy kliniek én sy lewe? Of gaan haar geheim ’n permanente wig tussen hulle indryf?

 

Proestukkie uit Ridder in ‘n Wit Jas

ridder

Die eienaar van die Stem staan vooroor gebuk. Een van Sultan se hoewe – so groot soos ’n tafelbord – is tussen sy knieë vasgeknyp. ’n Verbleikte denim ry laag om sy heupe, met ’n leervoorskoot bo-oor vasgebind. Sy lang, brons bolyf is kaal. Dun straaltjies vloei blink daarteen af. Sweet? Reën?

Waarskynlik ’n kombinasie.

Sy moet wegkyk, en vinnig ook. Ordentlike meisies staar nie só na mans nie, veral nie natgeswete, halfnaaktes nie. Haar oë bly vasgeplak, raak net nie uitgekyk nie.

“En as jy my nou só staan en kyk?” Hy kantel sy gesig na haar op. Die kaal gloeilamp wat van die dak swaai, laat sy oë soos oniks skitter. Sy donker hare versmelt teen die perd se flank. “Nog nooit gesien hoe iemand ’n perd beslaan nie?”

Sy hap na woorde. Tevergeefs. Genadiglik praat hy verder voor die stilte ondraaglik word.

“Eben Greyling.” Hy flits vir haar ’n glimlag wat sy ganse gelaat verhelder. Ten spyte van al die botteltjies mineraal water wat sy leeg gedrink het, wat nou pynlik dringend moet uit, is haar mond kurkdroog.

“Gee my ’n minuut,” sê hy, “dis die laaste hoef.” Met geoefende hande vis hy ’n paar spykers uit die voorskootsak en knyp hulle tussen sy lippe vas. Weer glimlag hy vir haar, dié keer ’n dunlip-gryns wat drup van macho selfvertroue. Dankie tog die spykers is nie in háár mond nie. Sy sou sweerlik ’n paar ingesluk het.

“Ahem,” maak Jantjie langs haar keel skoon. “Die juffrou se handdoek.”

“O, dankie.” Die handdoek is grof gewas en verbleik, maar dit ruik skoon, die ene son en suurlemoene. Sy druk aan haar hare. Steel nog ’n onderlangse kykie terwyl sy so koponderstebo staan.

Woep-woep-woep, kap hy die spykers met seker hale in. Toe die hoefyster vas is, draai hy die perd se been om sy handewerk te beoordeel. Skynbaar tevrede klop hy die dier op die nek.

“So ja, Sultan, hou in vadersnaam hierdie stel aan. Hoefolie, ’seblief, Jantjie, dan kan hy stal toe.”

Hy kom orent met die grasie van ’n oerwoudkat. Carli sluk moeisaam toe sy welgevormde arms dakwaarts strek. As hy om vadersnaam net sy hemp wil aantrek . . . Hy vou een hand agter sy rug en pluk aan die leervoorskoot se band. Die knoop wil nie loskom nie.

“Ag, help gou, ’seblief.” Sonder meer swaai hy om en bied sy rugkant vir Carli.

Haar hart word belaglik lig, ’n heliumballon wat wil weg- dryf. Moet sý die voorskoot losmaak? Hoe, nogal, sonder om aan daardie sexy jeanverpakte agterwêreld te raak? Of aan sy bruingebrande vel?

Sy knyp die knoop tussen haar naels vas. Haar vingers is so dom dat geen mens sou glo sy was heel vaardig tydens chirurgie-rotasies nie. Miskien omdat hy soveel liggaamshitte uitstraal? Sweerlik meer as die normale sewe-en-dertig grade? Hopelik begin haar vingerpunte nie sis nie.

Hy roer sy skouers sodat sy rugspiere rimpel. Jimmel, hy sou model kon speel vir Grey’s Anatomy. Die teksboek én die TV- reeks. Hy sal McDreamy en McSteamy doodgewoon laat lyk.

 

Nuut op die Rak: Bella se Skaduwee April 22, 2013

Was dit nou lekker om verlede week in Graffiti Boeke te kom en vyf eksemplare van my nuwe boek in ‘n ry te sien staan! Bella se Skaduwee is my vierde romanse, maar die lekkerkry is nog net so groot soos met die eerste. Hoop julle gaan net soveel Bella se skaduwee.inddgenot uit die lees put! Lees bietjie wat staan op die flapteks:

Vroedvrou Bella het só gehoop dokter Markus Cameron is ‘n gawe vaal omie. Dis erg genoeg dat sy hom vir die volgende maand moet saamsleep na al die geboortes wat sy hanteer en dat sy hom moet mentor in die kuns van natuurlike bevallings. Moes hy nou boonop so ‘n aantreklike blikskottel wees? Bella vertrou mooi mans net so ver as wat sy hulle kan gooi – sy’t mos gesien wat met haar ouers se verhouding gebeur het – en van Markus wil sy niks weet nie. Maar omstandighede dwing haar om nóú saam met haar skaduwee te werk en sy begin dieper kyk as sy modelmooi uiterlike. Bella moet die donker plekke van haar siel ondersoek om einde ten laaste lig van skaduwee te onderskei.

 

Proestukkie: Bella se Skaduwee April 15, 2013

Een van die grootste lekkertes vir ‘n skrywer is om jou six-pack met outeurseksemplare in die pos te kry. Hierdie keer moes ek Bella se skaduwee.indddie vreugde maar op ‘n afstand beleef. My pakkie het by my man se werk aangekom terwyl ek vir die week in Dullstroom is. Hy het dit namens my oopgemaak, en my meisiekinders het solank begin lees! Miskien is dit ook goed, want hoe sou die boek ooit geskryf gekom het sonder my gesin? Wat vir my eindelose koppies koffie aangedra het (arme lewer!), en kos gemaak het? Wat my kere sonder tal moed ingepraat het? Nee wat, hulle verdien beslis ‘n groot klomp eer vir die boek, en ek’s bly hulle was darem ook opgewonde oor die pakkie.

Bella se Skaduwee is my vierde liefdesverhaal, en die een wat my die meeste hoofbrekens besorg het. Tog is dit ook juis hierdie karakters: Bella en Markus, vir wie ek die heel liefste geword het. Hier is ‘n proestukkie uit die boek. Hoop dat dit my getroue lesers (duisend dankies, julle!) solank ‘n voorsmakie sal gee, en ook ‘n paar van nuwe lesers sal lusmaak om ‘n entjie van die pad saam met Bella-hulle te stap.

Proestukkie uit Bella se Skaduwee

“Vasbyt, Bella, ek vat jou ongevalle toe. Lyk my jy’s allergies

vir Pethidine. Maar jy’s oukei, hoor, jy’t net adrenalien

nodig.”

Sy knyp haar oë ’n oomblik styf toe, asof sy haarself doelbewus

probeer kalmeer.

“Daar’s hy,” moedig hy haar aan. “Haal so rustig jy kan

asem. As jy panic, gaan jy slegter voel.”

Ás jy panic? Natuurlik panic sy, Cameron, jou aap! Mens

noem dit nie verniet “asemnood” nie. Erger nog, jý panic

self. Praat van die pot wat die ketel verwyt. Jy’s die dokter

hier, man, die een wat veronderstel is om kommerkoel te

bly. Waddehel makeer jou?

Soos ’n sak patats smyt hy haar oor sy skouer, brandweermanstyl.

Bella maak ’n kermgeluidjie en ’n ystervuis omklem

sy hart. Dêm, haar af stuitjie. Sy gryp die onderpunt

van sy hemp vas, haar vingers koel teen sy ontblote rugvel.

Klammerig. Nóg ’n teken wat hom glad nie aanstaan nie.

Hy’t al ’n paar keer anafilaktiese skok gesien. Dit mág nie

met Bella gebeur nie.

Gelukkig het Chrissie hom vanoggend ’n blitstoer van

die hospitaal gegee. Ongevalle is nie te ver van radiografie

nie. Hy drafstap so vinnig hy kan, om hoeke, in gange af,

hiperbewus van elke hortende asemteug wat Bella hier agter

sy rug gee. In die voorportaal skok sy hart byna tot stilstand:

Daar’s ’n besonder lang pouse voor haar volgende inhalasie.

Hy skud haar ru.

“Hei? Bella?”

Sy antwoord met ’n kreun, te benoud – en seker te seer

ook – om ’n druppel asem te mors.

“Amper daar, hoor.”

Sy antwoord met ’n kreun, te benoud – en seker te seer

ook – om ’n druppel asem te mors.

“Amper daar, hoor.”

Hy’s vaagweg bewus van omstanders wat hom oopmond

aanstaar. ’n Portier kom aangedraf met ’n rolstoel, maar

Markus druk die man opsy. Hy gaan Bella nie op haar stukkende

stuitjie neersit nie. Buitendien kan hy haar vinnig

genoeg dra.

Die swaaideure van ongevalle is uiteindelik voor hulle.

Skoon lam van verligting swaai hy om en stamp dit met sy

skouer oop. Hy beweeg sywaarts binnetoe, soos ’n krap, versigtig

om nie teen iets te bots nie. Sy arms vou stywer om

haar bobene. Hy draai weer reguit vorentoe, net betyds om

te sien hoe ’n donkerkopsuster agter die toonbank orentkom.

“Meneer? Kom sit haar sommer hier op die trollie . . .”

“Waar’s resus?” bulder hy. Kan die vrou nie sien hy’t ’n

bleddie wit jas aan nie?

Sy antwoord nie, protokol laat dit natuurlik nie toe nie.

Maar haar oë flits na die resussitasiekamer. Dis al wat Markus

nodig het. Was hy al ooit so bly om by ’n noodtrollie uit te

kom?

 

As daardie spiertjie in jou held se wang te dikwels spring… Augustus 22, 2012

Elke skrywer het sekere fisiese aanduidings van emosie wat sy/hy geneig is om oor en oor te gebruik. Hoewel sulke gewoontetjies kan help met karakterbou, klink dit maklik holrug gery. Dit kan selfs jou lesers ‘n pyn gee. (As jy my nie glo nie, lees gerus die Fifty Shades trilogie: “Don’t bite your lip, Miss Steele.”)

Maar hoe hou jy jou uitdrukkings vars? Hoe vermy jy clichés soos daardie spiertjie wat in die held se wang spring sodra hy hom vererg (ek moet ‘n persoonlike swakheid vir daardie spiertjie erken, dis van jongs af vir my baie sexy!).

Natuurlik word enige skrywer wat haar sout werd is, ‘n student van mense. Jy luister hul gesprekke af (‘n onderwerp vir ‘n ander post!) en jy hou hulle onbeskaamd dop in die mall. Maar mense is ongelukkig geneig om hul mees intense emosies agter toe deure te beleef. Baie lastig vir ‘n skrywer!

Flieks en DVDs los deels hierdie probleem op, want intense emosies is juis die stuff waarvan box office hits gemaak word. Ek het al sover gegaan om my gunsteling DVDs met ‘n notaboek in die hand te kyk. Natuurlik moet jy akteurs dophou wat actually kan toneelspeel, anders help dit nie veel nie.

Maar ek het onlangs ‘n kortpad ontdek – ‘n handige gids wat ek oral kan saamdra: The Emotion Thesaurus. En glo my, ek het al waarde vir my $4-99 gekry! Die twee wonderlike skrywers, Angela Ackerman en Becca Puglisi, het ‘n lys van moontlike emosies gemaak. Elke emosie het ‘n lys van fisiese tekens, innerlike sensasies, intellektuele reaksies sowel as tekens van die onderdrukking van hierdie emosie. Byvoorbeeld vir die emosie anger is ‘n moontlike fisiese teken ‘n rooi gesig, ‘n moontlike innerlike sensasie (you guessed it…) ‘n gekners van tande (wat natuurlik tot die sexy spiertjie in die wang lei), ‘n intellektuele reaksie fantasizing violence en tekens van die onderdrukking van woede is ‘n carefully controlled tone. Handig, of hoe?

 

‘n Geselsie met Madelie Human Junie 10, 2012

Madelie Human, skrywer van romantiese komedies

My derde romanse, Bosveldliefde vir Jemma, sal later hierdie maand op die rakke wees. In die lig van hierdie happy event, het ek met Madelie Human, skrywer van heerlike romantiese komedies, gesels oor die skryfproses en die genre. Gaan lees gerus die onderhoud by

’n Kuiertjie met Amelia Strydom, skrywer van mediese romanses


en moenie skaam wees om te laat hoor wat jy dink nie.

 

Vanaand in die Huis van die Storievrate April 19, 2012

Die Storievrate

Die Storievrate

Vanaand het ek drie bitter ongelukkige kinders. Nee, nie omdat hulle hul kamers moes reg pak nie (hoewel hulle dit ook behoort te doen). Ook nie omdat hulle skottelgoed moes was of aandete moes maak nie (hoewel hulle dit inderdaad gedoen het). Die rede vir hulle ontevredenheid, lê op my Kindle. Let wel, mý Kindle. Die enigste een in die huis (tot dusver, Maja spaar ook om vir haar een te koop).

Vandat die oudste, Carl-Daniël (nou 15), twee weke oud was, het ek probeer om elke aand vir hom voor te lees. Sommer gou was dit sy gunstelingtyd van die dag, nes ek verwag het. Hy het heeldag uitgesien na leestyd en nooit gekla omdat hy in die bed moes klim nie, want daar was altyd eers ‘n uur of wat se leestyd wat as versagting gedien het vir die straf van slaap.

Toe sy sussies, Maja, Tamika, en Mignon, en later sy boetie, Dominic bygekom het, het ons die tradisie voortgesit (hoewel dit al hoe meer uitdagend geword het om leesstof te kry wat in almal se smaak val). Gelukkig het ons ‘n koningsgrootte bed en ‘n paar leunstoele in die kamer. Nou baklei hulle darem net oor wie langs Marmie mag lê.

Die wonderlike stories wat ons gelees het, het die kinders se verbeeldings geprikkel en in hulle speletjies uiting gevind. Toe hulle kleiner was, het ek gespot dat die bure sou kon raai met watter boek ons besig is deur net na hul spelery buite te luister.

Wat ek egter nie verwag het nie, was dat storietyd sommer gou ook my gunsteling tyd van die dag geword het. Selfs al was die stories nie altyd age appropriate nie, het ek altyd iets uit ‘n goeie boek gekry. Iemand (ek kan nou nie onthou wie daardie iemand was nie) het geskryf dat ‘n goeie storie bevredigend is of jy nou nege of negentig jaar oud is. ‘n Goeie boek is soos ‘n ui, dit het verskillende lae en die leser kan daardie lae afskil soos hy/sy emosioneel en intellektueel daarvoor gereed word. Natuurlik was die samesyn met die kinders nog lekkerder as die stories. Bykans al ons mees betekenisvolle gesprekke het na aanleiding van boeke plaasgevind.

Maar hoekom is jou kinders vanaand vir jou kwaad, wonder jy seker. Wel, ons het almal griep gehad en vir die laaste twee weke was daar nie leestyd nie. To add insult to injury, was ek en die oudste drie besig met ‘n baie spannende boek toe die virus ons platgetrek het. Plague Year deur Stephanie Tolan. In die verhaal trek daar ‘n nuwe tienerseun, Bran (aka Fruitful Bran deur die boelies en class clowns), na ‘n klein dorpie op die Amerikaanse platteland. Bran is ‘n outsider, ‘n loner, en sommer gou word hy verskriklik gespot. Gelukkig maak die verteller, David, en sy weird vriendin, Molly, met hom vriende. Maar dan kom Bran se geheim op die lappe: Hy is die seun van ‘n berugte reeksmoordenaar. Massahisterie versprei soos ‘n plaag deur die dorpie en Bran word die teiken van geweld en vooroordeel.

Dis ‘n dêm lekker storie en dis elke aand ‘n gesukkel om die boek neer te sit sodat almal kan gaan slaap. Die kinders gee my nou al gratis refleksologie behandelings net dat ek moet aanhou lees. Vanaand het ons vir die eerste keer in twee weke weer ons boek op Kindle oopgemaak. Ons het twee hoofstukke gelees en het nou net 9% van die boek oor, volgens Sophia, my Kindle en die godin van wysheid in hierdie huis.

Ongelukkig is ons nou op die heel spannendste plek in die storie. Bran het op sy eie koers gekies na die gwarriegat (praat van TSTL, oftewel Too Stupid to Live!), en die skrywer het ‘n paar goedgeplaaste vooruitskouings geplant wat ons waarsku dat Bran waarskynlik ‘n ongelukkige einde gaan ontmoet. Al drie kinders het gesoebat en gesmeek dat ek verder moes lees, maar ek was onverbiddelik. Mens moet darem iets hê om na uit te sien. Suspense is goed vir julle, het ek hulle verseker. Toe dit vir hulle duidelik word dat ek hierdie keer regtig nie nog gaan lees nie, het hulle Plan B probeer. “Mamma, kan ek vanaand jou Kindle leen om vooruit te lees?”

Jy kan seker raai wat my antwoord was. Al drie gaan dus droëbek – en dikbek – slaap vanaand. (Terwyl Marmie met gevryfde voete gaan slaap, verwyt Carl-Daniël). Gelukkig is die twee kleintjies nie vir my heeltemal so kwaad nie, want hulle Little House on the Prairie boek – in Afrikaans vertaal, natuurlik – is nie op so ‘n spannende plek nie. Hulle is maar te bly dat Mamma se keel nie meer te seer is om te lees nie.

Ten spyte van die konflik wat hierdie leesgewoonte kan veroorsaak, sal ek steeds ten sterkste aanbeveel dat jy vir jou kinders lees. Dis die sekerste manier om lesers groot te maak, en jou voete gevryf te kry. Ek vermoed dat dit ook die manier is om skrywers te kweek. Ek weet my ma het vir my gelees (en dan gewoonlik op ‘n onmoontlike plek opgehou, sodat ek self verder moes gaan!) en ek is taamlik seker dat Maja se belangstelling in skryf ook uit hierdie lesery gebore is. Lees gerus The Read-Aloud Handbook deur Jim Trelease as jy nog nie oortuig is nie, of as jy idees soek oor wat om vir jou spruite te lees.

Hier is ‘n ONVOLLEDIGE lys van ons gunsteling voorlees-boeke in geen spesifieke volgorde nie:

  1. Die Harry Potterreeks deur J.K. Rowling

    Elke swart kraai dink haar eiers is die witste

    Elke swart kraai dink haar eiers is die witste

  2. Die Twilight reeks (vir tieners) deur Stephenie Meyer
  3. Meneer Popper se Pikkewyne deur Florence en Richard Atwater (vergeet die fliek, die boek is honderd maal snaakser)
  4. Droomoog Diepgrawer deur Leon de Villiers
  5. Sarah, Lank en Vaal deur Patricia MacLachlan
  6. Two Weeks with the Queen deur Morris Gleitzman (ek het met tye so hard gelag – en dan weer getjank – dat ek skaars hardop kon lees). Maar moenie hierdie boek vir jou kinders lees as jy homofobies is nie. ‘Queen’ het ‘n dubbele betekenis. As jy my hel toe wil verdoem omdat ek vir my kinders sulke boeke lees, kan jy dit gerus maar doen. Ek wil asseblief net nie daarvan hoor nie
  7. Bill’s New Frock deur Anne Fine. ‘n Skreeusnaakse storie oor ‘n seun wat oornag in ‘n meisie verander (iets wat ek Carl-Daniël jare al belowe NIE kan gebeur nie). Die gevolge is hilarious. Nie vir mense wat bekommerd is oor die gevare van unisex of die bevraagtekening van gender roles nie!
  8. Number the Stars deur Lois Lowry (nie vir jonger lesers nie, die boek handel oor die Holocaust)
  9. A Series of Unfortunate Events deur Lemony Snicket. Die eerste twee boeke in die reeks is in Afrikaans vertaal: Die Bose Begin en Die Reptielkamer. My kinders is mal oor die donker humor, al eindig die stories nie juis gelukkig nie.
  10. Die Laura-boeke, soos ons dit noem, of The Little House on the Prairie reeks deur Laura Ingalls Wilder. Dis die derde keer in my lewe dat ek hierdie reeks deurlees en ek is nog glad nie moeg daarvoor nie.
  11. Music of Dolphins deur Karen Hesse. Hierdie interessante, hartroerende storie handel oor ‘n meisie wat deur dolfyne grootgemaak is. Natuurlik moet mens jou ongeloof tydelik kan tersyde stel, want meeste van die gebeure is onmoontlik, maar dit gee die leser ‘n vars blik op ons samelewing.
  12. Liewe Heksie reeks deur Verna Vels.
  13. Pippi Langkous reeks deur Astrid Lindgren
  14. Die Leners reeks (in Engels The Borrowers) deur Mary Norton
  15. Die Leeu, die Heks en die Hangkas deur C.S. Lewis
  16. The Magic Treehouse reeks deur Mary Pope Osborne
  17. Skaapvark deur Dick King-Smith (in Engels Sheep Pig). Hierdie is die boek waarop die fliek, Babe, gebaseer is. Klaweraas deur dieselfde skrywer is ook die moeite werd.
  18. Charlotte se Web deur E.B. White, terwyl ons nou oor varke praat.
  19. Wolf Ja, Wolf Nee deur Elsabe Steenberg
  20. Stone Fox deur John R. Gardiner. Waarskuwing: nie ‘n gelukkige einde nie!
  21. Enigiets deur Roald Dahl, maar veral Die Groot Sagmoedige Reus (‘n smeklekker boek, soos die GSR sou sê!), Matilda en Marius se Merkwaardige Medisyne
  22. Mevrou Frisby en die Rotte van Nimh deur Robert C. O’Brien. Waarskuwing: nie ‘n gelukkige einde nie!
  23. Yolanda’s Genius deur Carol Fenner
  24. Josias-boeke deur Ann Cameron (In Engels The Stories Julian Tells ens)
  25. Die Rooihuid in die Kassie deur Lynne Reid Banks (in Engels The Indian in the Cupboard)

 

 

Twee Wêrelde, Twee Bybies April 16, 2012

Partykeer voel ek effens skisofrenies. Ek het ‘n voet in twee wêrelde het en moet my bes probeer om nie my balans te verloor nie. Aan die een kant is ek ‘n skywer (wat net nooit genoeg tyd het vir skryf nie). Aan die ander kant maak ek ‘n lewe uit geboortes en babatjies as ‘n doula en laktastiekonsultant. Ek het selfs twee verskillende name in die twee wêrelde.

Meeste van die tyd trek hierdie wêrelde tou om my aandag. As ek besig is met die een, voel ek skuldig oor die ander. Om nie eens te praat van my vyf kinders en Pa wat iewers ook nog ‘n stukkie van my moet kry nie …

Maar soms, net vir ‘n oomblik, is daar harmonie tussen die twee wêrelde. Soos toe ek gisteraand hierdie foto kry van Annchen, ‘n mamma vir wie ek tydens kraam bygestaan het. Met die boodskappie: Ek en Bella het BAIE van jou storie gehou! Lovit! Lekker slaap, Annchen en Bella.

Vanselfsprekend voel ek vreeslik spesiaal oor al die babatjies wie se eerste skreeu ek gehoor het, veral as ek hulle, soos Bellatjie, kan sien grootword ook. En soos alle skrywers is ek erg oor hierdie eersteling-kortverhaal van my in VROUEKEUR. Hoe heerlik om twee van my bybies op een foto te sien!

 

Boeke van die Week April 15, 2012

My meisiekind, Maja, het my aangesteek met haar Boeke van die Week blog-inskrywing. Elke naweek hou sy nabetragting oor alles wat sy die week gelees het en soek sy prentjies van die voorblaaie om die post mooi te maak. Hierdie week kan ek die versoeking om dieselfde te doen, nou nie meer weerstaan nie. Dit lyk vir my soos goeie aansporing – miskien nie om meer te lees nie (ek lees waarskynlik reeds te veel en skryf te min!) – maar om ‘beter’ boeke te lees. Of ten minste om meer gebalanseerd te lees. Hopelik sal daar dan nie soveel weke verbygaan waarin ek net Engelse boeke of net Harlequin Medical’s of net Afrikaanse romanses lees nie …

Ons het oorspronklik die idee vir ‘n weeklikse boeke-blog op Charlaine Harris se webwerf gesien. Charlaine skryf boeke wat mens seker as paranormal chick lit kan bestempel. Haar smaak in leesstof is dikwels bietjie avontuurlustig vir my, maar ek geniet dit nietemin om elke nou en dan by haar blog in te loer.

Hier is my Boeke van die Week (Sondag 8 tot Sondag 15 April):

Picture Perfect deur Jodi Picoult

Ek was nog altyd bietjie van ‘n loskop – selfs wanneer dit by geld kom. Ek onthou ‘n paar geleenthede uit my tienerjare toe ek onverwags op ‘n vergete twintigrandnoot in ‘n baadjiesak of handsak afgekom het. Toe was dit genoeg om ‘n nuwe boek of plaat mee te koop – en dit was ‘n ekstra lekker verrassing omdat ek nie geweet het ek het dit nog nie!

Só het ek gevoel oor Picture Perfect. Kom ek verduidelik. Jy sien, my ma was ‘n hoarder. ‘n Opgaarder. Erg. So erg soos die mense wat mens op Oprah of Dr Phil sien. Sy het nooit iets weggegooi nie. En ongelukkig ook nooit ‘n professionele uitsmyter gekry om van haar gemors ontslae te raak nie. Ek moes dit doen nadat sy op 61 onverwags aan ‘n beroerte gesterf het. Só ‘n ervaring is nie iets wat mens sommer vergeet nie. Dit laat ‘n merk op jou. Vir jare het ek dus ‘n redelike streng beleid gehad oor boeke: Ek mag nuwes koop, maar nie sonder om terselfdertyd van dié wat ek reeds gelees het, ontslae te raak nie.

Hierdie beleid het my boekery in toom gehou, maar dit het gebackfire. Ek het nie rekening gehou met die feit dat kinders (vinnig) grootword en dan graag daardie selfde boeke as hul ma wil lees nie. Met die gevolg dat ek vir die laaste paar jaar agteruit boer. Ek moet dieselfde titels wat ek nuut gekoop en toe verkoop het, nou weer ten duurste uit tweedehandse winkels gaan terugkoop sodat my kids dit kan lees. My ma se motto spook by my: Moet dit liewers nie weggooi nie, mens weet nooit wanneer jy dit eendag nodig kry nie … Wie sou ooit kon raai dat daar waarheid in gesteek het?

Jodi Picoult is een van die groot liefdes wat ek en Maja deel. En ek weet sommer Tamika en Mignon gaan haar boeke net so geniet sodra hulle oud genoeg is. Elke keer as ek ‘n Jodi teen ‘n redelike prys in ‘n tweedehandse boekwinkel sien, koop ek dit vir my dogters. Hierdie week ek ‘n verrassing gekry wat nog lekkerder was as ‘n vergete twintigrandnoot.

Ek was seker dat ek al Jodi se boeke al gelees het. Ek is immers so opgewonde oor haar nuwe boeke dat ek dit nie net koop nie – ek pre-order dit sommer op Kindle. Stel jou dus my vreugde voor toe ek Picture Perfect vir my meisiekinders koop en besef dat ek die storie glad nie kan onthou nie. Nie omdat ek early onset dementia het nie, maar omdat ek dit op ‘n manier oorgeslaan het. Daar het ek toe al die tyd ‘n Jodi gekoop wat vir my splinternuut is, teen R32!

Ek het dit vreeslik geniet. Die storie handel oor ‘n vrou wat bo-op ‘n graf wakker word. Sy het harsingskudding van ‘n hou teen die kop en weet nie eens wat haar naam is nie. ‘n Paar dae later kom lê haar man beslag op haar. Sy naam is Alex Rivers en hy is Hollywood se blinkste ster. Hy is egter ook ‘n vroueslaner, iets wat Cassie eers later onthou.

Daar is verskeie onvleiende resensies oor hierdie boek op die Internet. Ek gee toe dat dit nie Jodi se diepste storie is nie. Ook nie haar mees wroegings-waardige etiese dilemma nie. Maar vir my was dit ‘n hengse treat. Loshande die beste R32 wat ek hierdie week spandeer het!

The Story Sisters deur Alice Hoffman                         

Waarskuwing: Nie vir Depressiewe Lesers Nie!

Hierdie een het ek gekoop omdat Jodi Picoult Hoffman as haar gunstelingouteur bestempel. Natuurlik het ek gehoop om iemand te kry wat net soos my geliefde Picoult skryf, maar ek het dit ongelukkig nie gekry nie. Miskien sou ek die boek meer geniet het as my verwagting nie so hoog was nie.

Dit is ‘n fassinerende storie wat mens bybly. Veral as jy van magiese realisme hou – en nie omgee vir ‘n donker verhaal nie. Dit handel oor die verhouding tussen drie susters en oor die besluite wat elkeen neem. Besluite wat die koers van hul lewens verander. Ek kan dit nie beter as die NYT opsom nie: ‘Little Women on mushrooms’.

Angels Fall deur Nora Roberts

Wat kan ek sê? Nora mag maar. Daar is ‘n goeie rede waarom daar miljoene der miljoene van haar boeke verkoop is. En haar spanningsromanses (romantic suspense) bly my gunsteling.

Reece Gilmour is die enigste oorlewende na ‘n gewapende roof in die Boston restaurant waar sy as chef gewerk het. Nou is sy ‘n emosionele wrak met PTSD, paniekversteurings en meer bagasie as wat enige lugredery nog ooit verloor het. Die boek begin waar sy met ‘n gekrokte Chevy by die prentjiemooi dorpie Angel’s Fist inry. (As jy Nora Roberts is, mag jy maar jou boek by die begin begin en hoef jy nie, soos die res van ons mere mortals, in media res te begin nie. Jy mag elke nou en dan jou POV verkeerd kry ook. Want jy skryf so flippen goed dat niemand sulke foutjies teen jou kan hou nie!)

Reece wil net wegvlug van die traumatiese herinneringe wat haar bloots ry. Ongelukkig het haar nagmerrie egter pas begin. Op ‘n staptog in die berge sien sy ‘n moord deur haar verkyker. En word sy, op haar beurt, gesien. Die lyk verdwyn en niemand behalwe Brody, misdaadskrywer en alpha male par excellence, glo haar nie. Is sy besig om die kluts heeltemal kwyt te raak, of is die vreemde gebeure alles deel van ‘n gevaarlike moordenaar se kat-en-muis speletjie? Hmm, great stuff!

Oop Kaarte deur Annemari Coetser (finalis in Sanlam/Tafelberg se Groot Romanwedstryd 2006)

Elke skrywer het sekere temas wat hom/haar opgewonde maak. Jy weet daardie onderwerpe waaroor jy tot drie-uur in die nag sal gesels? Die onderwerpe wat jou hart ‘n bietjie vinniger laat klop en jou asem in jou keel laat vashaak? Daardie is die onderwerpe, glo ek, waaroor jy moet skryf. Dit wys waar jou energie lê – waar jy jou beste werk gaan doen.

Poligamie is een van my hot topics. Ek ken twee vroue – uit uiteenlopende kulturele en godsdienstige agtergronde – wat binne poligame huwelike leef. Die verhoudingsdinamika fassineer my, asook die teenwoordigheid van en/of gebrek aan konflik. In my beperkte ervaring weerspieël dit dikwels ongelyke magsverhouding tussen mans en vroue. Kortom, it tickles me pink.

Stel jou dus voor hoe opgewonde ek was toe ek hoor dat Annemari – een van my gunsteling Afrikaanse skrywers – se debuutroman oor ‘n alternatief tot monogamie handel. Oor een threesome se eksperiment met ‘n ‘oop verhouding’, met poli-amorie.

Ek het Oop Kaarte in een sitting gelees. Dis intelligent, modern en boeiend. Dit gryp jou. Tog wou ek meer hê, het ek gewens die outeur wou dieper delf. Ek sou bitter graag die storie uit albei vrouens se oogpunte wou beleef. Ek sou meer van die konflik wou sien. Meer van die jaloesie. Ek was honger vir die klein jakkalsies, vir die alledaagse kompleksiteite van so ‘n aweregse verhouding. As daar ‘n skrywer is wat die moed, die vaardigheid, en die varsheid het om so ‘n kontroversiële tema aan te pak, is dit Annemari. Oop Kaarte is ‘n ongelooflike debuut. Ek hoop Annemari het nog baie ink in haar pen en dat sy nie uitgeskryf is oor eksperimente met die liefde nie.

Lees gerus Isak de Vries se interessante resensie oor Oop Kaarte hier: http://www.argief.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&news_id=28218&cause_id=1270